Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 21:3-15 Die Boodskap (DB)

3. Joab het Dawid geantwoord: “Mag die Here sy volk ’n honderd keer meer maak as wat hulle nou is! Maar waarom wil u nou hierdie telling laat doen? Almal is tog u onderdane. Waarom wil u Israel nou laat sonde doen?”

4. Dawid het hom nie daaraan gesteur nie en Joab gedwing om die volkstelling te doen. Joab het die hele land deurgegaan en toe hy weer in Jerusalem aankom,

5. het hy die getalle vir Dawid gegee: in die hele Israel was daar 1,1 miljoen weerbare manne en in Juda 470 000.

6. Die opdrag van Dawid was egter vir Joab so afstootlik dat hy nie die Benjaminiete en die Leviete bygetel het nie.

7. God was baie ontevrede oor die volkstelling en het Israel daaroor gestraf.

8. Dawid het vir God gesê: “Ek het ’n groot sonde gedoen deur die volkstelling te hou. Vergewe my, asseblief; ek besef dit was ’n dom ding om te doen.”

9. Die Here het vir Gad, Dawid se siener, gesê:

10. “Gaan sê vir Dawid: ‘Die Here sê: Kies een van die volgende drie moontlikhede as ’n straf oor jou sonde en Ek sal dit laat gebeur.’”

11. Gad is toe na Dawid toe en het vir hom gesê:

12. “Die Here sê u moet kies tussen: drie jaar hongersnood, drie maande van vernietiging deur u vyande of drie dae van ernstige siekte, terwyl die engel van die Here vernietiging oor die hele land van Israel bring.“Wat kies u, sodat ek dit vir die Here kan gaan sê?”

13. Dawid het geantwoord: “Dit is ’n ontsettend moeilike keuse. Laat die Here my liewers self straf, want sy genade is baie groot. Moet tog net nie dat mense my in die hande kry nie!”

14. Die Here het toe ’n siekte-epidemie in Israel laat uitbreek wat die lewe van 70 000 mense geëis het.

15. Daarna het God ’n engel gestuur om Jerusalem ook te vernietig. Toe Hy die verwoesting sien, was die Here jammer daaroor en Hy het vir die engel gesê: “Hou op! Dit is nou genoeg.”Die engel het toe by die dorsvloer van Ornan, ’n Jebusiet, gestaan.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 21