Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 15:25-29 Die Boodskap (DB)

25. Dawid, die leiers van die Israeliete en die hoogste offisiere was baie bly toe hulle na Obed-Edom se huis toe vertrek het om die ark van die verbond van die Here te gaan haal.

26. Omdat hulle kon sien dat God die Leviete help wat die verbondsark van die Here dra, het hulle sewe bulle en sewe ramme vir die Here geslag.

27. Dawid, al die Leviete wat die verbondsark gedra het, die sangers en Kenanja, wat die draery gereël het, het almal klere van fyn linne aangehad. Dawid het ook nog ’n skouerkleed van linne omgehad.

28. Die Israeliete was almal bly dat die verbondsark van die Here Jerusalem toe gekom het. Hulle was uitbundig en het dit met vreugdekrete, ramshorings en trompette, simbale, liere en harpe gevier.

29. Toe die ark van die Here se verbond in die Stad van Dawid aankom, het Saul se dogter Mikal by die venster uitgekyk. Sy het koning Dawid sien ronddans en spring en het hom in haar hart verag.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 15