hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 15 Die Boodskap (DB)

Die ark in Dawid se vestingstad:

1. Dawid het vir homself geboue in die Stad van Dawid opgerig. Hy het ook ’n plek vir die verbondsark van God ingerig en ’n tent daarvoor opgeslaan.

2. Toe het hy gesê: “Niemand behalwe die Leviete mag die ark van God dra nie. Die Here het hulle gekies om die ark te dra en vir altyd daarvoor te sorg.”

3. Daarna het hy die hele Israel in Jerusalem byeengeroep om die verbondsark van die Here te verskuif na die plek wat daarvoor reggemaak is.

4. Dawid het mense uit die Aäronfamilie en Leviete bymekaargebring.Hulle was:

5. 120 ampsdraers uit die Kehatgroep, met Uriël as leier;

6. 220 ampsdraers uit die Merarigroep, met Asaja as leier;

7. 130 ampsdraers uit die Gersongroep, met Joël as leier;

8. 200 ampsdraers uit die Elisafangroep, met Semaja as leier;

9. 80 ampsdraers uit die Hebrongroep, met Eliël as leier;

10. 112 ampsdraers uit die Ussiëlgroep, met Amminadab as leier.

11. Dawid het ook die priesters Sadok en Abjatar en die Leviete Uriël, Asaja, Joël, Semaja, Eliël en Amminadab geroep.

12. Vir laasgenoemde groep het hy gesê: “Elkeen van julle is die hoof van die Levitiese families. Sorg dat julle en julle mede-Leviete rein is, sodat julle die verbondsark van die Here, Israel se God, na die plek kan bring wat ek daarvoor reggemaak het.

13. Verlede keer, toe julle Leviete nie daar was om die ark te dra nie, het die Here ons God op ons toegeslaan. Ons het nagelaat om die Here te vra hoe ons die ark behoort te vervoer.”

14. Die priesters en die Leviete het toe gereedgemaak om die ark van die Here, Israel se God, te gaan haal.

15. Die Leviete het die ark van God met sy drahoute op hulle skouers gedra, net soos die Here vir Moses beveel het om te doen.

16. Dawid het ook die Levitiese leiers opdrag gegee om hulle ampsgenote, die sangers, as ’n koor te organiseer. Hulle moes vreugdeliedere met die begeleiding van liere, harpe en simbale sing.

17. Die Leviete het toe vir Heman, Joël se seun, Asaf, Berekja se seun, en Etan, Kusaja se seun, uit die Merarigroep aangewys.

18. Die volgende mans is gekies as hulle assistente: Sagaria, Jaäsiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Benaja, Maäseja, Mattitja, Elifele, Mikneja, asook Obed-Edom en Jeïel, die hekwagte.

19. Die sangers Heman, Asaf en Etan sou die bronssimbale slaan.

20. Sagaria, Jaäsiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Maäseja en Benaja sou op die liere speel.

21. Mattitja, Elifele, Mikneja, Obed-Edom, Jeïel en Asasja sou op die harpe speel.

22. Kenanja was in beheer van die Leviete wat die verbondsark moes dra. Hy het dit gereël, omdat hy geweet het hoe om dit te doen.

23. Berekja en Elkana sou die ark bewaak.

24. Die priesters Sebanja, Josafat, Netanel, Amasai, Sagaria, Benaja en Eliëser sou op die trompette blaas voor die ark van God uit. Obed-Edom en Jegija was ook wagte by die ark.

Die ark word Jerusalem toe gebring

25. Dawid, die leiers van die Israeliete en die hoogste offisiere was baie bly toe hulle na Obed-Edom se huis toe vertrek het om die ark van die verbond van die Here te gaan haal.

26. Omdat hulle kon sien dat God die Leviete help wat die verbondsark van die Here dra, het hulle sewe bulle en sewe ramme vir die Here geslag.

27. Dawid, al die Leviete wat die verbondsark gedra het, die sangers en Kenanja, wat die draery gereël het, het almal klere van fyn linne aangehad. Dawid het ook nog ’n skouerkleed van linne omgehad.

28. Die Israeliete was almal bly dat die verbondsark van die Here Jerusalem toe gekom het. Hulle was uitbundig en het dit met vreugdekrete, ramshorings en trompette, simbale, liere en harpe gevier.

29. Toe die ark van die Here se verbond in die Stad van Dawid aankom, het Saul se dogter Mikal by die venster uitgekyk. Sy het koning Dawid sien ronddans en spring en het hom in haar hart verag.