Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 15:13-25 Die Boodskap (DB)

13. Verlede keer, toe julle Leviete nie daar was om die ark te dra nie, het die Here ons God op ons toegeslaan. Ons het nagelaat om die Here te vra hoe ons die ark behoort te vervoer.”

14. Die priesters en die Leviete het toe gereedgemaak om die ark van die Here, Israel se God, te gaan haal.

15. Die Leviete het die ark van God met sy drahoute op hulle skouers gedra, net soos die Here vir Moses beveel het om te doen.

16. Dawid het ook die Levitiese leiers opdrag gegee om hulle ampsgenote, die sangers, as ’n koor te organiseer. Hulle moes vreugdeliedere met die begeleiding van liere, harpe en simbale sing.

17. Die Leviete het toe vir Heman, Joël se seun, Asaf, Berekja se seun, en Etan, Kusaja se seun, uit die Merarigroep aangewys.

18. Die volgende mans is gekies as hulle assistente: Sagaria, Jaäsiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Benaja, Maäseja, Mattitja, Elifele, Mikneja, asook Obed-Edom en Jeïel, die hekwagte.

19. Die sangers Heman, Asaf en Etan sou die bronssimbale slaan.

20. Sagaria, Jaäsiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Maäseja en Benaja sou op die liere speel.

21. Mattitja, Elifele, Mikneja, Obed-Edom, Jeïel en Asasja sou op die harpe speel.

22. Kenanja was in beheer van die Leviete wat die verbondsark moes dra. Hy het dit gereël, omdat hy geweet het hoe om dit te doen.

23. Berekja en Elkana sou die ark bewaak.

24. Die priesters Sebanja, Josafat, Netanel, Amasai, Sagaria, Benaja en Eliëser sou op die trompette blaas voor die ark van God uit. Obed-Edom en Jegija was ook wagte by die ark.

25. Dawid, die leiers van die Israeliete en die hoogste offisiere was baie bly toe hulle na Obed-Edom se huis toe vertrek het om die ark van die verbond van die Here te gaan haal.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 15