Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 9:18-28 Die Boodskap (DB)

18. Baälat, Tamar in die Judese woestyn,

19. sy voorraadstede, die stede vir sy perde en sy waens, en alle ander geboue in Jerusalem, die Libanon en op ander plekke in sy koninkryk met die hulp van dwangarbeiders gebou.

20. Salomo se dwangarbeiders het veral uit die nageslag van die Kanaäniete bestaan. Dit was al daardie groepe wat die Israeliete nie doodgemaak het toe hulle destyds die land ingeneem het nie.

21. Onder hulle was die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Vandag nog is hulle nageslag die land se werkers.

22. Salomo het nooit Israeliete as dwangarbeiders gebruik nie. Hulle was die soldate, die offisiere, die generaals, die drywers van die oorlogswaens en die ruiters.

23. Ongeveer 550 amptenare het oor die dwangarbeiders toesig gehou, asook oor hulle bouwerk op verskillende plekke.

24. Nadat Salomo se Egiptiese vrou, die dogter van die Egiptiese koning, uit die ou Dawidstad na haar nuwe huis getrek het, het Salomo begin om die oostelike deel van die stad met grond op te vul en ’n terras te bou.

25. Salomo het gereeld drie keer per jaar, tydens pase, pinkster en die loofhuttefees, brandoffers en dankoffers op die altaar geoffer wat hy vir die Here gebou het. Salomo het al sy verantwoordelikhede by die tempel nagekom.

26. Hy het ook vir hom ’n hele skeepsvloot by Esjon-Geber digby Elat aan die kus van die Golf van Akaba in Edom laat bou.

27. Koning Hiram het toe van sy mees ervare skeepslui gestuur om saam met Salomo se manne te werk.

28. Hulle het Ofir toe geseil en 14 000 kilogram goud vir Salomo teruggebring.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 9