Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 6:1-18 Die Boodskap (DB)

1. Salomo het die tempel in die tweede maand, die maand Sif, begin bou. Dit was 480 jaar nadat Israel uit Egipte getrek het en vier jaar nadat Salomo koning geword het.

2. Salomo se tempel was 30 meter lank, tien meter breed en vyftien meter hoog.

3. Aan die tempel se voorkant was daar ’n voorportaal van tien meter in lengte en vyf meter in breedte. Die voorportaal was net so lank as wat die tempel breed was.

4. Salomo het ook vensters met kosyne en traliewerk ingesit.

5. Aan die buitenste muur van die tempel het hy ’n platform gebou wat om die gebou geloop het. Onder en bo-op hierdie platform het Salomo verdiepings gebou.

6. Elke kamer in die onderste verdieping was ongeveer twee meter breed. In die middelste verdieping was die kamers amper drie meter breed en op die boonste verdieping net oor die drie meter.

7. Al die klippe waarmee die tempel gebou is, is reeds by die steengroef reggekap. Op die tempelterrein was daar dus geen geraas van hamers, byle of ander ystergereedskap nie.

8. Die ingang tot die onderste verdieping was aan die suidekant van die tempel. Van daar kon ’n mens met trappe na die tweede en derde verdieping klim.

9. Salomo het toe die tempel stuk vir stuk klaar gebou. Bo-op die plafon het hy stroke sederhout oorkruis laat lê.

10. Die platform wat hy buite-om die tempel gebou het, was net oor die twee meter hoog. Hy het die platform met groot sederbalke aan die tempel se muur vasgemaak.

11. Die Here het vir Salomo gesê:

12. “As jy My liefhet en elke dag my wil uitleef, sal Ek vir jou doen wat Ek jou pa, Dawid, beloof het.

13. Ek sal in die midde van my volk woon en altyd in die tempel teenwoordig wees. Ek sal Israel nooit verlaat nie.”

14. Salomo het toe die tempel klaar gebou.

15. Die binnemure van die tempel is van bo tot onder met panele van sederhout bedek. Die hele vloer was van sipresplanke.

16. Aan die agterkant van die tempel was daar ’n kamer van tien meter wat die Allerheiligste genoem is. Dit was van die vloer tot die dak met sederhout afgewerk.

17. Uit die Allerheiligste het ’n mens in ’n ander groot kamer ingestap. Dit is die voorste heiligdom genoem en was twintig meter lank.

18. En as ’n mens uit die voorste heiligdom gestap het, het jy in die binneste heiligdom gekom. Dit was die plek waar die verbondsark van die Here gestaan het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 6