Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 5:6-18 Die Boodskap (DB)

6. Ek wil u vra om my te help. Stuur asseblief u manne na die Libanon om daar vir my seders te gaan kap. My manne sal dit hier verder saam met u manne bewerk. Soos u weet, kan my mense nie so goed bome kap soos u manne nie. Onthou, ek sal u mense betaal wat u ook al vra.”

7. Hiram was baie bly oor Salomo se boodskap en het gesê: “Loof die Here vandag omdat hy Dawid so ’n slim seun gegee het. ’n Seun wat hom kon opvolg en die koning van ’n groot nasie kon word.”

8. Hiram het nie gras onder sy voete laat groei nie en hy het Salomo geantwoord: “Dankie vir u boodskap. Ek is bereid om te help en sal u van seders en sipreshout voorsien.

9. My manne sal die boomstompe van die Libanon af na die see toe sleep. Daar sal hulle dit aan mekaar vasmaak en die vlotte met die see langs laat afkom tot waar u dit wil hê. Daar sal my manne dit weer losmaak en u manne kan dan oorneem. U moet asseblief net genoeg kos aan my mense voorsien.”

10. Hiram het Salomo al die seders en sipresse laat kry wat hy nodig gehad het.

11. Salomo het op sy beurt elke jaar vir Hiram 2 000 ton koring en 4 400 liter suiwer olyfolie gestuur.

12. Die Here was goed vir Salomo en het hom die nodige wysheid gegee om goed te regeer. Die verhouding tussen Salomo en Hiram was uitstekend en hulle het ’n vredesooreenkoms gesluit.

13. Koning Salomo het 30 000 man van oor die hele Israel opgeroep om met al die bouprojekte te help.

14. Hy het Adoniram oor hulle aangestel en dié het hulle in drie groepe van 10 000 ingedeel. Elke groep het een maand in die Libanon en twee by die huis deurgebring.

15. Verder het Salomo 80 000 man by die steengroewe in die berge gehad en 70 000 wat die stene moes dra.

16. En hy het ook 3 300 voormanne aangestel om toesig oor die werk te hou.

17. Salomo het die werkers beveel om mooi, groot stene vir die tempel se fondament te kap.

18. Salomo en Hiram se werksmense asook die mense van die stad Gebal het die stene en die hout pasklaar gemaak sodat die bouers net kon begin bou.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 5