Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 2:10-20 Die Boodskap (DB)

10. Toe het Dawid gesterf. Hulle het hom by sy mense in Jerusalem, die stad waar Dawid gewoon en gewerk het, begrawe.

11. Dawid het 40 jaar oor Israel regeer, eers sewe jaar in Hebron en toe 33 jaar in Jerusalem.

12. Salomo het sy pa as koning opgevolg. Sy koningskap is deur almal aanvaar en hy het ’n vaste greep op sy koninkryk gehad.

13. Op ’n dag het Adonia, die seun van Haggiet, vir Batseba, die ma van Salomo, besoek. “Kom jy in vrede?” het Batseba gevra. “Ja,” het Adonia geantwoord.

14. “Ek wil u iets vra,” het hy voortgegaan. “Wat is dit?” het Batseba gevra.

15. Adonia het gesê: “U weet tog dat ek eintlik koning moes geword het. Baie mense in Israel het ook so gedink, maar toe het dinge anders verloop. My broer het koning geword, want die Here wou dit so gehad het.

16. Ek wil u ’n groot guns vra. Moet dit asseblief nie weier nie.” “Wat is dit, Adonia?” het Batseba gevra.

17. Adonia het keelskoongemaak en toe gevra: “Sal u nie asseblief met koning Salomo praat en hom vra of ek met Abisag, die vrou uit Sunem, mag trou nie? As u hom namens my vra, weet ek hy sal luister.”

18. “Goed,” het Batseba gesê, “ek sal met die koning oor jou versoek gesels.”

19. Batseba het met die koning oor Adonia se versoek gaan praat. Toe sy die vertrek binnekom, het Salomo opgestaan en in eerbied voor sy ma gebuig. Hy het weer op sy troon gaan sit en gesê hulle moet vir sy ma ’n stoel bring. Batseba het aan die regterkant van Salomo gaan sit.

20. Na ’n ruk het Batseba vir Salomo gesê: “Ek kom met ’n klein versoekie en ek hoop jy sal dit nie weier nie.” “Wat is dit, Ma?” het Salomo gesê. “Ek help mos graag.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 2