Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 18:23-36 Die Boodskap (DB)

23. “Bring nou vir ons twee bulle. Laat die Baälprofete vir hulle ’n bul uitsoek, dit in stukke sny en op die hout sit. Moet net nie dat hulle die vuur aansteek nie. Ek sal die ander bul vat, dit slag en op die hout sit. Ek sal dit ook nie self aansteek nie.

24. Laat die Baälprofete dan vir Baäl vra om die vuur aan te steek en ek sal die Here vra. Wie die vuur aansteek, is die enigste ware God.” Die volk het hierdie voorstel van Elia aanvaar.

25. Elia het toe vir die Baälprofete gesê: “Julle is die meeste; daarom moet julle eerste begin. Kies vir julle ’n bul, slag dit en sit dit op die hout. Moet dit nie self aansteek nie, maar vra julle god om dit te doen.”

26. Die Baälprofete het ’n bul gekies, dit geslag en op die hout neergesit. Toe het hulle tot Baäl begin bid. Hulle het van die oggend tot die middag gebid. Hulle het aanmekaar gesê: “Baäl, antwoord ons,” maar net mooi niks het gebeur nie. Uit radeloosheid het die Baälprofete om die altaar begin dans wat hulle gemaak het.

27. Teen die middag se kant het Elia met die profete van Baäl begin spot. “Roep ’n bietjie harder,” het hy gesê. “Probeer weer, want hy is dalk in gedagte of besig. Of miskien is hy weg, of iewers op reis. Wie weet, dalk slaap julle god net, dan moet julle hom wakker maak.”

28. Die Baälprofete het nog harder begin bid. Toe dit nie werk nie, het die profete hulleself met skerp swaarde en messe begin stukkend sny sodat hulle vol bloed was, soos hulle gewoonte was. Hulle het dit gedoen om hulle god se aandag te probeer trek.

29. Laat daardie middag het die profete met alles wat hulle gehad het, begin skree en smeek. Niks het egter gebeur nie. Hulle het aangehou skree en raas totdat dit tyd was vir die aandoffer in Jerusalem.

30. Toe het Elia vir hulle gesê: “Kom, staan nader.” Almal het om Elia gaan staan. Hy het die altaar van die Here, wat die Baälprofete beskadig het, eers gou herstel.

31. Hy het twaalf groterige klippe gevat en dit opmekaargestapel. Die twaalf klippe moes die mense aan die twaalf stamme herinner, asook aan Jakob, wie se naam na Israel verander is.

32. Met die stene het Elia die altaar van die Here herbou. Hy het ook ’n diep watersloot om die altaar gegrawe.

33. Hy het toe die hout netjies op die altaar reggesit, die bul geslag en die stukke op die hout neergesit. Toe sê Elia: “Vat nou vier groot kruike en maak dit vol water. Gooi dan alles oor die bul en die hout uit.” Hulle het so gemaak.

34. Nadat hulle al die water oor die bul en die hout uitgegooi het, het Elia gesê hulle moet dit weer doen. Hulle het weer water gaan haal en dit oor alles omgekeer. Elia was nog nie tevrede nie en hulle moes nog ’n keer water gaan haal.

35. Naderhand het die water van die altaar af gestroom. Die sloot om die altaar was later vol water.

36. Teen die tyd dat die aandoffer gebring moes word, het Elia by die altaar gaan staan en gebid. “Here,” het hy gesê, “U is die God van Abraham, Isak en Jakob. Laat almal vandag besef dat U die God van Israel is en dat ek aan U behoort en dat ek al hierdie dinge doen omdat U gesê het ek moet.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 18