Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 16:5-17 Die Boodskap (DB)

5. Alles wat Baesa gedoen het, kan ’n mens in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings gaan naslaan.

6. Baesa is dood en in Tirsa begrawe. Sy seun Ela het hom opgevolg.

7. Die profeet Jehu het vir Baesa van die Here se planne met hom en sy familie vertel. Baesa se sonde het die Here kwaad gemaak. Hy het dieselfde pad as Jerobeam geloop. Boonop het hy Jerobeam se familie op ’n wrede manier vermoor. Baesa en sy familie sou ook uitgewis word.

8. In die 26ste jaar van koning Asa van Juda se regering het Ela die seun van Baesa koning van Israel geword. Hy het in Tirsa gebly en twee jaar daar regeer.

9. Simri, ’n senior offisier en die hoof van ’n groot deel van die oorlogswaens, wou Ela uit die weg ruim. Hy het net vir die regte oomblik gewag. Op ’n dag was Ela in die huis van Arsa, die hoof van die paleis. Ela het te veel gedrink en was dronk.

10. Simri het toe by die huis ingebars en Ela op die plek vermoor. So het Simri koning van Israel geword. Dit het gebeur in die 27ste jaar van koning Asa van Juda se regering.

11. Simri het onmiddellik Baesa se hele familie begin uitmoor. Al die mans, asook hulle vriende, is uitgewis.

12. Dit het gebeur presies soos die Here dit deur die profeet Jehu gesê het. Simri het gesorg dat die hele Baesafamilie doodgemaak word.

13. Baesa en sy seun Ela se talle afgode was ’n groot skande voor die Here, die God van Israel. En hulle het Israel ook verlei om ander gode te aanbid.

14. Alles wat Ela gedoen het, is in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings opgeteken.

15. In die 27ste jaar van koning Asa van Juda se regering het Simri koning van Israel geword. Hy het in Tirsa gewoon en het net sewe dae daar regeer.

16. Terwyl Israel se troepe onder leiding van Omri die stad Gibbeton in die Filistynse gebied beleër het, het hulle van Simri se optrede gehoor. Hulle kon nie glo dat Simri nou koning was nie en het sommer daar op die plek vir Omri koning van Israel gemaak.

17. Omri en die troepe is onmiddellik daar weg en het Tirsa gaan beleër.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 16