Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 14:23-31 Die Boodskap (DB)

23. Hulle het op baie hoë plekke in die berge altare gebou en klippilare en beelde van die godin Asjera daar opgerig. Hulle het onder elke groen boom saamgekom en offers vir ander gode gebring.

24. Daar was selfs prostitute by daardie offerplekke. Die mense van Juda het presies gedoen soos daardie volke wat die Here destyds uit Kanaän verdryf het sodat Israel in die land kon woon.

25. In die vyfde jaar van Rehabeam se regering het koning Sisak van Egipte teen Jerusalem opgeruk.

26. Sisak het in die tempel ingegaan en alles gevat. Hy het al die paleis se skatte weggeneem, ook die goue skilde wat Salomo nog gemaak het.

27. Rehabeam het toe koperskilde in die plek van die ander gemaak. Hy het dit vir die wagte gegee wat die ingang van die paleis moes bewaak.

28. Elke keer as Rehabeam na die tempel toe gegaan het, het die wagte die koperskilde gedra. Na die tyd het hulle dit weer in die paleis se stoorkamers gaan terugsit.

29. Alles wat Rehabeam gedoen het, is in ’n belangrike boek Die lewe en werk van al Juda se konings opgeteken.

30. Rehabeam en Jerobeam het omtrent heeltyd oorlog teen mekaar gemaak.

31. Rehabeam is dood en is in Jerusalem in die familiegraf begrawe. Sy ma was Naäma, ’n vrou uit Ammon. Sy seun Abia het in sy plek koning geword.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 14