Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 12:24-33 Die Boodskap (DB)

24. ‘Moenie teen julle broers in die noorde gaan veg nie. Gaan liewer terug, want alles het volgens my wil gebeur.’” Al die manskappe het net daar omgedraai en teruggegaan huis toe.

25. Jerobeam het Sigem op die Efraimsberg herbou en daar gaan bly. Na ’n ruk is hy daar weg en het in Penuël gaan bly.

26. Jerobeam het oor alles nagedink en toe vir homself gesê: “Die kans is groot dat ek my koninkryk kan verloor.

27. As hierdie volk elke keer Jerusalem toe moet gaan om daar in die tempel te gaan offer, sal hulle weer vir Rehabeam van Juda wil dien. Dit sal my einde beteken. Hulle sal my doodmaak en na Juda terugkeer.”

28. Nadat Jerobeam ’n lang ruk daaroor gedink het, het hy besluit om twee goue kalwers te maak. Toe het hy vir sy mense gesê: “Julle het nou lank genoeg in Jerusalem gaan offer. Kyk, hier is die gode wat julle uit Egipte gelei het.”

29. Hy het een van die goue kalwers in Bet-El en die ander een in Dan gesit.

30. Wat Jerobeam gedoen het, was verkeerd. Die volk het gesondig deur in Bet-El en Dan te gaan offer.

31. Jerobeam het nog verder gegaan en offerplekke op hoë plekke in die berge gebou. Hy het ook priesters aangestel wat nie eens Leviete was nie.

32. Jerobeam het ook ’n spesiale feesdag ingestel, nes die feesdag in Juda. Dit is op die vyftiende dag van die agtste maand gevier en almal moes dit bywoon. Baie offers is op hierdie feesdag gebring vir die beelde wat hy laat maak het. En hy het ook die priesters wat hy self aangestel het daar laat optree.

33. Jerobeam het hierdie feesdag ingestel om te keer dat sy mense Jerusalem toe gaan. Op die vyftiende dag het hy Bet-El toe gegaan en by die altaar gaan staan. Net toe hy die offervuur wou aansteek, het die profeet daar aangekom.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 12