Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 12:13-21 Die Boodskap (DB)

13. Omdat Rehabeam die ouer mans se raad verwerp het, het hy hard en lelik met die mense gepraat.

14. Omdat hy die jonger mans se raad gevolg het, het hy sonder enige tegemoetkomendheid gesê: “My pa het julle swaar laat kry, maar ek sal julle nog swaarder laat kry. Hy het julle met ’n sweep geslaan, maar ek gaan julle met gesels slaan.”

15. Dinge het presies gebeur soos die Here deur die profeet Agija van Silo vir Jerobeam gesê het. Dit is waarom Rehabeam nie eens na die ouer mense wou luister nie.

16. Toe die noorde se mense Rehabeam se storie hoor, het hulle almal begin skree: “Weg met Dawid en sy nageslag! Ons is nie deel van Dawid se mense nie! Wat het hulle al ooit vir ons gedoen! Israel, kom ons gaan huis toe. Laat Rehabeam maar self sien en kom klaar.” So het die mense van Israel hulle teen Rehabeam verset.

17. Israel het toe hulle eie pad geloop. Al wat vir Rehabeam oorgebly het, was die een stam, die stam van Juda in die suide van die land.

18. Rehabeam het vir Adoniram, die man wat Salomo nog oor die dwangarbeiders aangestel het, gestuur om met Israel te gaan praat. Hulle het hom so gehaat dat hulle hom sommer met klippe doodgegooi het. Toe Rehabeam sien wat gebeur, moes hy vinnig voor die skare padgee. Hy het net-net weggekom en is terug Jerusalem toe.

19. Van daardie dag af wou Israel niks meer met die koningshuis van Dawid in Jerusalem te make hê nie.

20. Nadat Jerobeam se terugkeer uit Egipte oral bekend geword het, het die mense hom na ’n groot volksbyeenkoms uitgenooi. Daar het hulle hom toe voor almal koning gemaak. So het Jerobeam die nuwe koning van Israel geword. In die suide het net die stam van Juda nog aan die huis van Dawid behoort.

21. Rehabeam was woedend. Hy wou sy verlore koninkryk met alle geweld herwin. Terug in Jerusalem het hy 180 000 jong soldate uit die stamme Juda en Benjamin opgeroep.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 12