Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 9:2-20 Die Boodskap (DB)

2. Dit krap my baie om. Die Heilige Gees weet dit. My probleem is Israel.

3. Israel, my broers, my bloedfamilie saam met wie ek grootgeword het. Maar baie van hulle glo nie in Christus nie. Ag, was ék maar deur Christus vervloek in plaas van hulle. Ek sal enige tyd my plek in God se nuwe wêreld aan hulle afstaan.

4. Hulle is tog Israeliete, God se mense. Hulle het God se glorie gesien. Hy het met hulle die een ooreenkoms na die ander gesluit. Ook die wet van Moses, die tempel en al God se wonderlike beloftes is aan hulle gegee.

5. Groot name soos Abraham, Isak en Jakob was hulle voorouers. Boonop het die Messias uit hulle midde gekom. Dit is Hy wat nou as God oor almal heers. Hy moet geloof word. Nou en vir altyd. Vir seker!

6. Dit wat ek oor Israel se ongeloof gesê het, beteken nie dat God se Woord nou skielik ongeldig is nie, inteendeel.

7. Want al van Abraham se tyd af het God nie alle Israeliete as ware Israeliete beskou nie.

8. God het vir Abraham gesê dat sy nageslag uit sy seun Isak sou voortkom. Dit beteken dus dat ’n mens nie sommer vanself ’n ware Israeliet is net omdat jou ouers Israeliete is nie. Glad nie. God alleen besluit wie regtig Israeliete is, soos Hy aan Abraham belowe het.

9. Julle onthou mos nog hoe Hy vir Abraham gesê het: “Teen hierdie tyd volgende jaar sal Sara ’n seun hê.” Die belofte het kort daarna waar geword.

10. Dit is egter nie al belofte van God wat in daardie tyd waar geword het nie. God het ook ’n ruk daarna uit ’n man (ek praat van ons almal se pa, Isak) vir Rebekka laat verwag.

11-13. Toe haar kinders nog nie eens gebore was nie en nog nie kon goed doen of kwaad doen nie, is daar aan haar gesê: “Jou kind wat eerste gebore word, sal die een dien wat tweede gebore word.” So het God gewys dat sy besluit om vir Hom ’n volk uit te kies nie afhanklik is van enigiets wat ons doen nie. Nee, Hy roep mense na Hom toe sonder dat Hy eers na al hulle goeie en slegte dade kyk. Daarom staan daar in die profeet Maleagi geskryf: “Ek het Jakob liefgehad. Ek het Esau gehaat.”

14. Beteken dit nou dat God onregverdig is? Nee, glad nie!

15. Hy het immers vir Moses gesê: “Ek sal daardie mense jammer kry wat Ek wil jammer kry. Ek sal genade bewys aan wie Ek genade wil bewys.”

16. God kyk nie eers na wat mense dink en doen voordat Hy besluit om hulle te red nie. Nee, God gee so baie vir mense om dat Hy Hom oor hulle ontferm sonder om hulle dade in ag te neem.

17. Daarom het Hy vir die farao gesê: “Ek het jou ’n baie sterk koning gemaak om ’n bepaalde rede. Ek gaan vir jou wys hoe sterk Ek is. My Naam gaan ook deur jou oor die hele aarde bekendgemaak word.”

18. Ons sien dus hieruit dat God genadig is oor wie Hy genadig wil wees. Hy maak ook daardie mense wat Hy wil verhard se hart so hard soos klip.

19. Jy sal dalk nou vir my sê: “Maar waarom blameer God ons dan vir alles wat hier op aarde verkeerd loop? Hy is tog in beheer van alles. Wie kan sy planne dwarsboom?”

20. Hoor hier, wie dink jy is jy dat jy met God stry en Hom terugantwoord? Jy is maar net soos ’n stuk klei in die pottebakker se hand. Hoe kan jy vir Hom wat jou gemaak het, sê: “Waarom het U my so gemaak?”

Lees volledige hoofstuk Romeine 9