Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 6:14-19 Die Boodskap (DB)

14. Julle staan nie meer onder die loodsware las van die sonde nie. Daardie mag is vir altyd gebreek. Julle hoef ook glad nie meer al die reëls van die wet na te kom om God se guns te probeer wen nie. Julle leef nou net uit sy goedheid.

15. Beteken dit nou dat ons maar kan sondig omdat ons nie meer die wet hoef te gehoorsaam nie? Kan ons leef soos ons wil omdat God ons uit genade red? Nee, natuurlik nie.

16. Julle weet mos hoe dit gaan: jy dien die een in wie se diens jy staan. Wat ek bedoel, is dit: as jy in die mag van die sonde is, sal jy aanhou sonde doen. Dan is die dood jou voorland. Maar aan die ander kant, as jy God dien, sal jy doen wat Hy sê. Dan wag die ewige lewe op jou.

17. Ek sê vir God dankie dat Hy julle, wat julle hele lewe lank vir die sonde gewerk het, heeltemal vrygemaak het. Dit is hoekom julle nou luister na alles wat Hy deur die apostels en sy ander dienaars vir julle leer.

18. Julle is nie meer slawe van die sonde nie. Nee, julle is nou God se slawe. Nou kan julle leef soos Hy dit wil hê.

19. Verskoon maar dat ek so ’n alledaagse beeld gebruik. Dalk help dit julle om te begryp wat ek sê. Vroeër het julle julle oorgegee aan al wat sonde is. Met groot oorgawe het julle alles gedoen wat boos en sleg is. Nou moet julle met dieselfde oorgawe doen wat reg is. Leef soos mense wat eenkant geplaas is om God voltyds te dien.

Lees volledige hoofstuk Romeine 6