Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 15:15-24 Die Boodskap (DB)

15. Daarom moet julle tog nie dink dat my brief, wat hier en daar nogal skerp is, as kritiek teen julle bedoel is nie. Glad nie. Ek sê maar net reguit alles wat God deur sy goedheid van my verwag om vir julle te sê.

16. Hy het my aangestel as Christus Jesus se dienaar om onder mense te werk wat nie aan Israel behoort nie. Dit is my taak om soos ’n priester die goeie nuus van God aan hulle te bring. Hulle moet soos ’n offer voor God neergesit word, ’n offer wat God baie bly maak omdat die Heilige Gees hulle lewens nuutgemaak het.

17. Ek is baie trots op alles wat Christus Jesus tot dusver deur my werk vir God bereik het.

18. Natuurlik sal ek dit nooit waag om oor my eie prestasies te praat nie. Nee, ek kan slegs praat oor wat Christus deur my gedoen het. Hy het elke woord en daad van my in sy diens geneem. Oral het mense wat nie aan Israel behoort nie, begin om in God te glo.

19. Groot tekens en wonders het plaasgevind waar ek gepreek het. Dit is omdat die groot krag van die Gees by my is. Daarom kon ek die goeie nuus oor Christus van Jerusalem af tot in die noordweste van Griekeland, daar in Illirikum, uitdra.

20. Ek het vir my een doel voor oë gestel: ek moes in plekke gaan preek waar mense nog glad nie van Christus gehoor het nie. Dit is nie my taak om die evangelie te gaan verkondig waar mense al klaar die evangelie bekendgemaak het nie.

21. My leuse word in die volgende Bybelteks saamgevat:“Daardie mense wat nog nie van die Here gehoor het nie - hulle sal Hom sien! Hulle wat nog glad nie van Hom gehoor het nie - hulle sal verstaan waaroor dit alles gaan!”

22. As gevolg van al my sendingwerk kon ek tot nou toe nog nie daar by julle uitkom nie.

23. My werk in hierdie streke is egter nou afgehandel. Daarom kan ek my jare lange droom om Rome toe te gaan uiteindelik waar maak.

24. Ek gaan binnekort Spanje toe. Op pad soontoe kom ek dan ’n rukkie by julle oorbly. Daarna kan julle my op die pad na Spanje toe weghelp.

Lees volledige hoofstuk Romeine 15