Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 14:9-15 Die Boodskap (DB)

9. Dit is tog hoekom Christus gesterf en weer lewendig geword het sodat Hy die Here oor die dooies en die lewendes kan wees.

10. Waarom veroordeel jy dan nog jou broer in die Here? En waarom verag jy jou suster in die Here? Dit is nie jou werk om regter oor ander gelowiges te speel nie. God sal dit doen wanneer ons almal eendag voor Hom staan.

11. Die Bybel sê mos:“‘So seker as Ek leef,’ sê die Here, ‘alle mense op aarde sal voor My die knie buig. Almal sal erken dat Ek God is.’”

12. Sorg daarom dat jou eie saak reg is wanneer jy die dag voor God se troon moet gaan staan. Want jy sal op daardie dag net verslag oor jou eie lewe aan Hom moet doen.

13. Moenie gedurig kritiek lewer op hoe ander mense lewe nie. Nee, maak eerder seker dat jy nie die oorsaak is dat ander gelowiges struikel en val nie. Moenie dit vir hulle moeilik maak om in God te glo nie.

14. As julle my persoonlike mening oor al hierdie dinge vra, sê ek sommer reguit vir julle dat geen kos vanself onrein is nie. ’n Mens kan enigiets eet. Maar as party mense tog dink dat dit verkeerd is om sekere soorte kos te eet, moet hulle dit liewer nie eet nie. Dan doen hulle verkeerd. Hiervan het die Here Jesus my oortuig.

15. As jy ander Christene aanstoot gee deur die kos wat jy eet, selfs al is dit nie in jou eie oë verkeerd nie, maak jy nie reg nie. Dan tree jy nie volgens die reëls van die Christelike liefde op nie. Onthou dat daardie mense wat weier om sekere soorte kos te eet, ook Christene is. Christus het ook vir hulle gesterf.

Lees volledige hoofstuk Romeine 14