hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 14 Die Boodskap (DB)

Sien ander gelowiges raak

1. Moenie maak asof jy beter is as ander gelowiges wie se geloof nog nie so sterk soos joune is nie. Aanvaar hulle met oop arms sonder om van vroeg tot laat met hulle te stry en baklei. Ek wil dit met ’n voorbeeld illustreer.

2. ’n Christen wie se geloof sterk is, het nie ’n probleem om verskillende soorte kos te eet nie. Maar ’n Christen wie se geloof nog nie so groot is nie, sal weier om kos te eet wat deur die Jode as onrein beskou word, of kos wat deur ongelowiges aan hulle afgode gewy is.

3. Nou moet hierdie gelowiges egter nie die fout maak om mekaar te veroordeel oor wat hulle eet of oor wat hulle nie eet nie, want God het plek vir albei van hulle.

4. Wie dink jy is jy dat jy so maklik ’n oordeel uitspreek oor die manier waarop ander mense hulle geloof uitleef? God self sal mos besluit of hulle reg doen of nie. Dit is nie jou werk nie. In elk geval, mense wat in God glo, al doen hulle dit op ’n ander manier as jy, sal gered word. Die Here sal daarvoor sorg.

5. Daar is mense wat sê dat sekere dae heiliger as ander dae is. En daar is mense wat sê dat alle dae presies dieselfde is. Elkeen moet in hierdie geval maar self besluit wat reg is. Wat wel belangrik is, is dat albei van hulle God se eer voorop sal stel.

6. Wat ek bedoel, is dit: as jy besluit om een dag heiliger as ’n ander dag te hou, doen dit dan tot eer van die Here. As jy besluit om alle kos te eet, doen dit tot eer van die Here. Sê vir God dankie daarvoor. As jy egter besluit om sekere soorte kos nie te eet nie omdat dit met jou geloofsbeskouings bots, doen dit ook tot eer van die Here. Sê dan vir God dankie vir daardie kos wat jy wel eet.

7. Onthou, nie een van ons leef of sterf vir onsself nie. Nee, ons almal staan in voltydse diens van die Here.

8. Daarom moet ons voluit vir Hom leef en doodgaan. Letterlik alles wat ons doen, moet tot eer van die Here gedoen word, want ons behoort aan Hom. Dit geld terwyl ons nou nog lewe, maar ook later wanneer ons doodgaan.

9. Dit is tog hoekom Christus gesterf en weer lewendig geword het sodat Hy die Here oor die dooies en die lewendes kan wees.

10. Waarom veroordeel jy dan nog jou broer in die Here? En waarom verag jy jou suster in die Here? Dit is nie jou werk om regter oor ander gelowiges te speel nie. God sal dit doen wanneer ons almal eendag voor Hom staan.

11. Die Bybel sê mos:“‘So seker as Ek leef,’ sê die Here, ‘alle mense op aarde sal voor My die knie buig. Almal sal erken dat Ek God is.’”

12. Sorg daarom dat jou eie saak reg is wanneer jy die dag voor God se troon moet gaan staan. Want jy sal op daardie dag net verslag oor jou eie lewe aan Hom moet doen.

Moenie die oorsaak wees dat

13. Moenie gedurig kritiek lewer op hoe ander mense lewe nie. Nee, maak eerder seker dat jy nie die oorsaak is dat ander gelowiges struikel en val nie. Moenie dit vir hulle moeilik maak om in God te glo nie.

14. As julle my persoonlike mening oor al hierdie dinge vra, sê ek sommer reguit vir julle dat geen kos vanself onrein is nie. ’n Mens kan enigiets eet. Maar as party mense tog dink dat dit verkeerd is om sekere soorte kos te eet, moet hulle dit liewer nie eet nie. Dan doen hulle verkeerd. Hiervan het die Here Jesus my oortuig.

15. As jy ander Christene aanstoot gee deur die kos wat jy eet, selfs al is dit nie in jou eie oë verkeerd nie, maak jy nie reg nie. Dan tree jy nie volgens die reëls van die Christelike liefde op nie. Onthou dat daardie mense wat weier om sekere soorte kos te eet, ook Christene is. Christus het ook vir hulle gesterf.

16. Waarom wil jy hulle lewens dan verwoes deur iets wat glad nie belangrik is nie? Moenie só julle goeie naam deur die modder sleep nie.

17. Dit gaan regtig nie in God se koninkryk oor wat ’n mens eet of drink nie. Allermins! Nee, daar waar God heers, is dit die belangrikste dat sondaars op grond van sy ongelooflike goedheid van hulle sondes vrygespreek word. Daar gaan dit oor vrede met God en oor blydskap omdat die Heilige Gees met sy groot krag aanwesig is.

18. Almal wat Christus dien, maak God se hart baie bly. Boonop het ander mense ook groot respek vir hulle.

19. Kom ons doen ons uiterste bes om in vrede met mekaar te leef. Kom ons help om mekaar se geloof sterk te maak.

20. Wat bereik ons as ons alles wat God in ons lewe opgebou het, gaan staan en afbreek oor ’n stukkie vleis? Ek sê weer: ’n mens kan alle kos eet. Maar as jy ander mense aanstoot gee deur dit wat jy eet, tree jy verkeerd op.

21. As jy in die openbaar vleis eet of wyn drink of enigiets anders doen wat ander gelowiges laat struikel, is jy baie selfsugtig.

22. Natuurlik het jy die reg om te glo soos jy glo. Maar onthou, dit is in die eerste plek ’n saak tussen God en jou. Dit is wonderlik as jy nie met ’n klomp skuldgevoelens opgeskeep sit oor hoe jy God dien nie.

23. Maar as jy twyfel of dit wat jy doen reg is - as jy byvoorbeeld vleis eet terwyl jy nie weet of jy dit mag doen nie - is jy skuldig voor God. As dit wat jy doen nie uit jou geloofsoortuigings voortspruit nie, is dit sonde.