Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 14:17-23 Die Boodskap (DB)

17. Dit gaan regtig nie in God se koninkryk oor wat ’n mens eet of drink nie. Allermins! Nee, daar waar God heers, is dit die belangrikste dat sondaars op grond van sy ongelooflike goedheid van hulle sondes vrygespreek word. Daar gaan dit oor vrede met God en oor blydskap omdat die Heilige Gees met sy groot krag aanwesig is.

18. Almal wat Christus dien, maak God se hart baie bly. Boonop het ander mense ook groot respek vir hulle.

19. Kom ons doen ons uiterste bes om in vrede met mekaar te leef. Kom ons help om mekaar se geloof sterk te maak.

20. Wat bereik ons as ons alles wat God in ons lewe opgebou het, gaan staan en afbreek oor ’n stukkie vleis? Ek sê weer: ’n mens kan alle kos eet. Maar as jy ander mense aanstoot gee deur dit wat jy eet, tree jy verkeerd op.

21. As jy in die openbaar vleis eet of wyn drink of enigiets anders doen wat ander gelowiges laat struikel, is jy baie selfsugtig.

22. Natuurlik het jy die reg om te glo soos jy glo. Maar onthou, dit is in die eerste plek ’n saak tussen God en jou. Dit is wonderlik as jy nie met ’n klomp skuldgevoelens opgeskeep sit oor hoe jy God dien nie.

23. Maar as jy twyfel of dit wat jy doen reg is - as jy byvoorbeeld vleis eet terwyl jy nie weet of jy dit mag doen nie - is jy skuldig voor God. As dit wat jy doen nie uit jou geloofsoortuigings voortspruit nie, is dit sonde.

Lees volledige hoofstuk Romeine 14