Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 10:15-21 Die Boodskap (DB)

15. En hoe kan mense vir ander van Hom gaan vertel as hulle nie gestuur word om dit te doen nie? Daarom sê die Bybel: “Hoor hoe wonderlik klink die voetstappe van diegene wat vir ander mense gaan vertel van al die goeie dinge wat God doen.”

16. Nie almal glo egter hierdie goeie nuus nie. Daarom het Jesaja op ’n dag gevra: “Here, wat help dit dat ons vir ander mense van U vertel? Hulle glo dit tog nie.”

17. Nogtans moet die Woord van die Here bekendgemaak word. Mense kan net tot geloof kom as hulle die Woord hoor. Daarom maak ek die boodskap van Christus oral bekend sodat mense ’n kans kan kry om dit te hoor.

18. Nou vra ek: Het hulle nie al genoeg kanse gehad om na God se Woord te luister nie? Ja, natuurlik! Een van die psalms sê juis:“Die stem van God se boodskappers het wêreldwyd weerklink. Hulle woorde is tot in die verste uithoeke van die wêreld gehoor.”

19. Waar lê die fout dan? Het Israel nie verstaan waaroor dit alles gaan nie? Luister na wat God deur sy kneg Moses hieroor sê: “Ek gaan julle nog baie jaloers maak op daardie mense op wie julle nou neersien. Wanneer julle sien hoe hulle in My glo, selfs al ken hulle My nie so goed soos julle nie, sal julle ontplof van woede.”

20. Jesaja het selfs nog verder gegaan. God het deur hom vir sy volk gesê: “Ek laat My vind deur mense wat nooit na My gesoek het nie. Ek het My bekendgemaak aan mense wat nooit eens gevra het wie Ek is nie.”

21. Daarna het Jesaja ook ’n verdoemende woord van God se kant af aan Israel gerig: “Dag na dag het Ek met oop arms op Israel se terugkoms gewag. Maar hulle ore is doof en hulle harte is so hard soos klip.”

Lees volledige hoofstuk Romeine 10