Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 10:1-12 Die Boodskap (DB)

1. My broers en susters, ek het een groot wens: dat God Israel sal verlos. Dag en nag bid ek dat dit sal gebeur.

2. Ek moet erken: die Israeliete is baie toegewyd in hulle godsdiens. Maar op die ou end help dit hulle niks nie. Want hulle het verskriklik baie ywer, maar hulle sit gestrand sonder die regte kennis van God.

3. Hulle het God se manier van vryspraak verwerp en toe probeer om deur al die goeie dinge wat hulle doen self hulle verhouding met God in orde te kry. Maar dit werk nie so nie. Omdat hulle hulle nie aan God se plan van verlossing onderwerp het nie, het hulle sy vryspraak misgeloop.

4. Sonder Christus help dit niks dat mense die wet probeer hou nie. Hy gee betekenis en inhoud aan alles wat die wet sê. Elkeen wat in Hom glo, word deur God vrygespreek sonder dat hulle dit verdien.

5. Moses skryf dat elkeen wat die wet streng onderhou op grond daarvan in die regte verhouding met God sal leef.

6. Maar hy sê dat wanneer jy al jou vertroue in God stel om jou van jou sondes vry te spreek, dinge heeltemal anders verloop. As jy in God glo, weet jy dat Christus die hele tyd naby is. Dan is dit nie meer nodig om te wonder of iemand na die hemel toe moet opklim om Christus daar te gaan soek om Hom na ons toe af te bring nie.

7. Of om êrens in die onderwêreld na Hom te gaan soek en Hom uit die dood hierheen te bring nie. Nee, dan moet jy net jou oë oopmaak en in Christus glo.

8. Moses het immers al gesê: “God se goeie nuus, sy woord van redding, is hier. Dit is so naby aan jou soos om die regte woorde vir God te sê. Dit is so naby aan jou soos om met jou hele hart in God te glo.”Ek maak hierdie goeie nuus oral bekend.

9. En ek sê vir mense om dit te glo. Dit is baie maklik om gered te word. Al wat jy moet doen, is om met jou woorde te erken Jesus is die Here en om met alles in jou te glo God het Hom uit die dood laat opstaan.

10. As jy dit glo, spreek God jou vry van al jou sondes. En as jy dit met jou mond bely, word jy verlos.

11. Die Bybel sê immers:“Niemand wat in God glo, sal ooit met leë hande wegstap nie.”

12. Hierdie goeie nuus geld vir alle mense, vir Jode en ook vir nie-Jode. Die Here heers oor ons almal. Hy stort sy groot genade uit oor almal wat Hom om hulp vra.

Lees volledige hoofstuk Romeine 10