Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 1:10-25 Die Boodskap (DB)

10. Elke keer as ek bid, vra ek Hom of Hy tog nie ’n plan kan maak sodat ek binnekort na julle toe kan kom nie.

11. Ek wil julle baie graag persoonlik ontmoet. Ek het die wonderlikste geestelike geskenke uit God se hand ontvang waarin ek julle wil laat deel. Dit sal julle geloof sterker maak.

12. Ek wil graag ook iets van julle ontvang: julle groot geloof kan my aanspoor om nog harder vir die Here te werk. So kan ons mekaar help om die Here nog beter te dien.

13. Weet julle hoeveel keer ek al probeer het om na julle toe te kom? Tot nou toe het daar elke keer iets voorgeval. Maar hou moed, ek is op pad. Ek beplan om ook daar in Rome vir julle en vir ander mense van Christus te vertel. Op hierdie manier sal daar ook by julle ’n ryk oes vir die Here ingesamel word.

14. Dit is my plig om aan alle mense op aarde, Jode en nie-Jode, geleerdes en ongeletterdes, die goeie nuus oor Jesus Christus bekend te maak.

15. Daarom wil ek bitter graag na julle toe kom. Ook daar in Rome moet ek die goeie nuus laat weerklink.

16. Ek is glad nie skaam om die goeie nuus oor Jesus Christus bekend te maak nie. God se groot krag is aan die werk op elke plek waar hierdie boodskap verkondig word. Hy red elkeen wat dit glo, Jode en nie-Jode. God se goedheid word sigbaar oral waar mense met hulle hele lewe op Hom vertrou.

17. Daar staan immers in die Bybel geskryf: “Almal wat deur God van hulle sondes vrygespreek is omdat hulle glo, sal die ware lewe ken.”

18. Uit sy hemelse woonplek wys God dat Hy baie kwaad is oor al die sondige dinge wat die mense hier op die aarde aanvang. Hulle verruil die waarheid vir leuens.

19. Dis ’n groot fout, want God het alles wat hulle oor Hom behoort te weet binne hulle bereik geplaas.

20. Van die begin van die skepping af het God Hom baie duidelik aan ons bekendgemaak. Alhoewel niemand van ons God met die blote oog kan sien nie, het Hy sy groot krag oral in die skepping aan ons kom wys. Sy handewerk wys dat Hy die enigste ware God is. Daarom het die mense geen verskoning nie.

21. Hulle weet baie goed wie God is. Hulle weier egter om Hom te aanbid of Hom te dank vir al die goedheid wat Hy aan ons bewys. Daarom dat hulle soos ’n spul dwase optree. Hulle hele lewe is een stuk donkerte.

22. Tog maak hulle asof hulle verskriklik slim is, al is hulle eintlik dom en sonder insig.

23. Hierdie mense het selfs so ver gegaan om hulle eie gode te maak. Hulle het die voorreg om die ewige God te ken gaan staan en verruil vir ’n spul handgemaakte gode. Nou buig hulle voor dié lewelose afbeeldings van mense, voëls, diere en reptiele.

24. God laat egter nie toe dat mense sy groot Naam deur die modder sleep nie. Daarom het Hy besluit om hierdie mense te straf deur hulle aan hulle eie lot oor te laat. Nou leef hulle al hulle sondige begeertes na hartelus uit. Die gevolg: hulle het erger as ’n klomp varke geword omdat hulle meedoen aan elke denkbare vorm van seksuele losbandigheid.

25. En dit net omdat hulle die waarheid verruil het vir ’n spul leuens. In plaas daarvan dat hulle voor die Skepper buig, verkies hulle om voor hulle eie handewerk te buig. Dit is ’n groot fout. Daar is immers maar net een God wat tot in alle ewigheid aanbid moet word.

Lees volledige hoofstuk Romeine 1