Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 22:14-21 Die Boodskap (DB)

14. “Hoe gelukkig is die mense wat hulle klere skoon was sodat hulle reg is vir God se groot fees! Hulle sal reguit deur die poorte van die stad kan instap. Die boom wat aan mense lewe gee, sal hulle s’n wees.

15. Mense wat vieslik geleef het, hulle met allerhande geeste en toordery opgehou het, sal buite moet bly. In God se stad is daar nie plek vir hulle nie. Dit geld ook vir die onsedelike mense en mense wat allerhande ander dinge behalwe die ware God aanbid het. Ja, die mense wat hulle rug vir die waarheid gedraai het en van leuens leef, sal nie die binnekant van God se stad sien nie.

16. “Ek, Jesus, het ’n engel as boodskapper gestuur om al hierdie dinge aan die gemeentes van God te vertel. Ek is ’n afstammeling van Dawid; uit sy geslag is Ek gebore. Ek is soos die helder ster wat die nuwe dag aankondig.”

17. Die Gees asook die bruid sê: “Kom!” Wie hierdie woorde hoor, moet ook sê: “Kom!” Laat die een wat geestelik dors het, kom. Enigeen wat graag wil, kan die water wat ’n mens vir ewig laat leef, verniet kom kry.

18. En nou ’n waarskuwing: dit gaan aan almal wat die boodskap van hierdie boek hoor. Ek waarsku die persoon wat enigiets by hierdie boodskap bysit. God sal hom met al die plae en slegte dinge tref waarvan daar in hierdie boek vertel word.

19. Iemand wat iets van God se boodskap in hierdie boek weglaat, moet ook gewaarsku wees. God sal sy aandeel in die boom wat aan mense die lewe gee en sy plek in die heilige stad vir ewig wegneem. (Dit is die boom en die stad waarvan vroeër in die boek gepraat is.)

20. Hy wat hierdie dinge aan ons met soveel oortuiging vertel het, sê nou weer: “Sowaar, Ek is op pad; Ek kom gou.”“Laat dit wees soos U sê! Kom, Here Jesus!”

21. Mag die Here Jesus baie goed vir julle almal wees.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 22