Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 16:14-21 Die Boodskap (DB)

14. Hierdie geeste het reguit van die duiwel af gekom en vir hom gewerk. Hulle het allerhande dinge gedoen om die mense te beïndruk. Hulle is na al die leiers en konings toe. Hulle het nie een oorgeslaan nie, maar almal omgepraat om saam met hulle te kom oorlog maak teen God. Maar dié dag wanneer hulle God gaan aandurf, sal in die geskiedenis uitstaan as ’n geweldig belangrike dag. Dit gaan God se dag wees, want Hy is sterker as almal saam.

15. (Julle is natuurlik onseker wanneer die dag presies is. Luister wat sê God: “Wees wakker. My koms sal wees soos ’n dief s’n - as mense dit nie verwag nie. Die mense wat wakker en gereed is, sal gelukkig wees. Hulle sal te bly wees dat hulle vir My gewag het. Hulle sal nie rooi in die gesig en skaam uit die bed hoef op te spring omdat hulle nie reg was nie.”)

16. Die duiwel en sy helpers het al die leiers van die wêreld saamgetrek by ’n plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word.

17. Net toe strooi die sewende engel sy bak in die lug uit. Uit die rigting van die troon in God se woonplek, sy tempel, hoor ek toe ’n harde geskree: “Alles is klaar; dit is verby!”

18. Toe begin die hele aarde ruk en bewe soos nooit tevore nie. Die blitse het geslaan en die dreuning van die donder was verskriklik.

19. Met die groot aardbewing is die belangrikste stad, Babilon, met al die bose mense in stukke geruk. Dit het in drie gebreek. Van die stede en mense wat God nie gedien het nie, het niks oorgebly nie. Ja, so sal dit gaan. God vergeet nie wat die klomp slegte mense van Babilon alles teen Hom gedoen het nie. Hulle sal moet betaal, daarvoor sal God sorg. Elke stukkie van God se straf en woede sal Babilon tref.

20. So verskriklik sal dit wees dat eilande sal verdwyn en berge sal platval.

21. Hael so groot soos rotse sal uit die hemel op die mense neerreën. Wat ’n verskriklike ramp gaan dit nie wees nie! Mense gaan God daaroor beledig en vloek.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 16