Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 13:1-8 Die Boodskap (DB)

1. Ek sien toe ’n dier uit die see opkom. Hy het so gelyk: hy het tien horings en sewe koppe gehad, wat gewys het hoe ’n sterk regeerder hy was. Sy tien krone het gewys dat hy soos ’n koning regeer het. Op die koppe was die verskriklikste naam geskryf. Dit was ’n absolute belediging vir God!

2. Hy kon nie sy sluheid wegsteek nie, want hy het die lyf van ’n luiperd gehad en sy pote het soos ’n beer s’n gelyk. Daarmee het hy vasgestaan.Sy bek was soos ’n leeu s’n, wreed en vreesaanjaend.Die duiwel het aan hierdie dier sy krag gegee. Hy kon met net soveel gesag as die duiwel regeer.

3. Een van die koppe van die dier het ’n wond gehad waarvan hy sekerlik moes doodgaan. Met so ’n wond kon hy nie bly leef nie. Tog het die wond gesond geword.

4. Die hele wêreld was verwonderd, stom van verbasing. Hulle het agter die dier aangestroom en die duiwel soos God aanbid, want hy het mos al daardie mag aan die dier gegee. “Wie is so wonderlik soos die dier?” het hulle gevra. “Wie sal ooit teen hom ’n oorlog kan wen?” So het hulle die dier aanbid.

5. God het die dier toegelaat om so ’n grootmond te wees en Hom te beledig. God het hierdie kragtoertjies van die duiwel vir ’n rukkie geduld; dit was darem nie te lank nie.

6. Die dier het vreeslik te kere gegaan. Hy het God op alle moontlike maniere beledig en sy karakter geskend. Selfs die wesens wat in die hemel saam met God bly, moes onder sy tong deurloop.

7. God het die dier ook nie gekeer om teen God se mense oorlog te maak en hulle selfs te wen nie. God het hom ook toegelaat om die septer te swaai oor die hele wêreld, maak nie saak waar nie.

8. Al die mense wêreldwyd en van oraloor het die dier aanbid asof hy God of Christus self is. As ek hier sê “al die mense”, is dit natuurlik almal wie se name nie in die boek van die lewe opgeskryf is nie. Dit is Christus, die Lam met die slagmerk aan sy keel, se boek. Die name staan al in daardie boek vandat die wêreld gemaak is.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 13