Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 1:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Daar is baie dinge wat mense nie weet nie. Net God weet dit. Jesus Christus het egter die gordyn kom wegtrek sodat mense wat Hom dien ook party van daardie goddelike dinge kan leer ken. Daarvan vertel hierdie brief. Dit is so: God het vir Jesus Christus gewys wat alles in die geskiedenis voorlê. Op sy beurt moes Hy dit wys vir mense wat Hom dien. Dit het Hy gedoen deur ’n engel na sy dienaar, Johannes, te stuur.

2. Hier volg nou Johannes se presiese weergawe van daardie boodskap van God. Jesus Christus self staan in vir die waarheid daarvan. Johannes het alles wat hy deur visioene gesien het, mooi neergeskryf.

3. Daarom is elkeen wat hierdie boodskap van God lees, baie gelukkig. Ja, gelukkig is almal wat hierdie goddelike woorde hoor en dit ernstig opneem, want daar is nie meer baie tyd oor nie.

4. Ek, Johannes, skryf aan die sewe gemeentes in Asië (daar in Wes-Turkye).Ek groet julle met die wens dat God vir julle alles sal gee wat julle nodig het, of julle dit verdien of nie.Mag julle lewe van God se vrede oorloop. Dit is die God wat nou by ons is, wat nog altyd daar was en ook in die toekoms saam met ons sal wees. Die goeie wense kom ook van die Heilige Gees af wat sorg dat alles gedoen word wat God as Heerser wil hê.

5. En dan kom dit ook van Jesus Christus af. ’n Mens kan Hom volledig vertrou. Dit is Hy wat alles vir ons kom vertel het. Wat Hy sê, is natuurlik waar. Hy het die leiding geneem deur eerste uit die dood op te staan. Boonop staan al die magtigste regeerders in hierdie wêreld onder sy mag en beheer. Hy het ons so lief dat Hy deur sy eie lewe te gee, dit reggekry het dat God nie meer ons ongehoorsaamheid en ons foute teen ons hou nie.

6. Hy het ons deel gemaak van die mense van God, die magtigste Heerser. Nou kan ons God, wat sy Vader is, met oorgawe dien, soos priesters. Aan Jesus behoort die grootheid en krag vir ewig en altyd! Dit is vir seker.

7. “Kyk mooi, Jesus sal op die wolke kom. Elke mens op hierdie aarde sal Hom sien. Die mense wat Hom destyds doodgemaak het, sal Hom sien. Ja, daar sal nie ’n mens op aarde wees wat nie dan van spyt in trane sal uitbars omdat hulle Hom nie gedien het toe hulle nog kon nie!” Ja-nee, so sal dit wees!

8. “Ek is die Een by wie alles begin en waar alles ook eindig. Ek is tegelyk soos die A en die Z van die alfabet,” sê die Here God. Hy is nou by ons soos Hy in die verlede by ons was. Hy stap ook saam met ons die toekoms tegemoet. Niemand of niks kan naastenby vir Hom kers vashou nie, want Hy het mag en gesag oor alles.

9. Ek, Johannes, is julle geestelike broer. Soos julle kry ek ook swaar omdat ek ’n Christen is. Maar ek is ook deel van die magtige God se mense. Daarom raak die swaarkry my nie baas nie. Ek behoort mos aan Jesus. So van swaarkry gepraat, ek sit hier op die eiland Patmos omdat ek oor God se boodskap preek en mense met oortuiging van Jesus vertel.

10. Een Sondag het die Heilige Gees weer kragtig in my gewerk. Ek hoor toe ’n verskriklik harde stem agter my praat; dit was byna of iemand met ’n trompet hier naby my oor blaas om my aandag te trek.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 1