Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 8:14-18 Die Boodskap (DB)

14. Uiteindelik kom Jesus by Petrus se huis aan. Met die intrapslag kon Jesus sommer sien dat Petrus se skoonma glad nie lekker voel nie. Sy was vuurwarm van die koors en het net daar op haar bed gelê.

15. Jesus stap toe nader en vat haar hand. Dadelik het haar koors gebreek en sy het beter begin voel. Om die waarheid te sê, sy het soveel beter gevoel dat sy dadelik opgestaan en vir Jesus kos gemaak het.

16. Die mense wou Jesus nie met rus laat nie. Tot diep in daardie nag was Hy nog besig. Veral mense op wie bose geeste ’n houvas gekry het, het na Hom toe gekom. Jesus het dié mense gehelp deur bloot met ’n bevel daardie geeste uit hulle te jaag. Daar was ook baie ander mense wat met allerhande siektes gesukkel het. Een vir een het Jesus hulle gesond gemaak.

17. Terwyl hulle Jesus so dophou, het hulle begin verstaan wat die groot profeet Jesaja bedoel het:“Waar ons so swak was dat ons nie verder kon nie, het Hy ons weer sterk gemaak. Toe ons platgeslaan was deur siektes, het Hy ons gesond gemaak.”

18. Jesus het gesien dat Petrus se huis nou te klein word vir al die mense. Dit het Hom laat besluit om van daar af na ’n plekkie aan die oorkant van die meer te gaan.

Lees volledige hoofstuk Matteus 8