Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 6:2-17 Die Boodskap (DB)

2. “Moenie ’n ophef daarvan maak as jy ’n arm persoon help nie. Net skynheilige mense doen dit. Hulle maak ’n groot bohaai wanneer hulle die armes help sodat almal dit kan raaksien en mooi dinge oor hulle kan sê. Onthou: God skuld hulle nou niks meer nie.

3. “Wanneer jy mense help, mag niemand daarvan weet nie.

4. Jy moet dit stil-stil doen. Jou linkerhand moet nie eens weet wat jou regterhand doen nie. Onthou: jou hemelse Vader sien wat jy vir ander doen. Hy sal wel sorg dat jy jou hemelse beloning kry.”

5. “As jy bid, moet jy nie soos die skynheiliges maak nie. Hulle bid graag voor ander mense tydens godsdienstige byeenkomste sodat hulle moet hoor hoe mooi hulle bid. God skuld sulke mense niks meer nie. Hulle het mos klaar hulle prys hier op aarde gekry.

6. “As jy bid, gaan dan na ’n stil plek toe waar niemand jou kan sien nie. Trek die deur agter jou toe en praat daar eenkant opreg met jou hemelse Vader. Hy sal sorg dat jy jou hemelse beloning kry.

7. “Moet ook nie dieselfde rympie oor en oor sê wanneer jy bid nie. Party mense wat God nie reg ken nie, bid so. Hulle dink dat hulle Hom met ’n stortvloed woorde kan ompraat om na hulle te luister.

8. Moenie soos hulle maak nie. Onthou: jou Vader in die hemel weet presies wat jy nodig het. Nog voordat jy bid, weet Hy al lankal wat in jou kop aangaan.

9. “Hier is ’n voorbeeld hoe jy moet bid:Ons Vader in die hemel, laat almal op aarde groot eerbied vir u heilige Naam hê.

10. Laat u nuwe wêreld tog gou aanbreek. Almal in die hemel doen wat U sê. Gee dat almal hier op die aarde ook doen wat U wil hê.

11. Gee ons vandag genoeg om van te leef.

12. Vergeef ons waar ons nie doen wat U van ons vra nie, net soos ons ander mense vergeef wat nie reg teenoor ons optree nie.

13. Help ons om nooit te swig voor versoekings nie, en pas ons op wanneer die duiwel ons wil verlei om verkeerde dinge te doen.

14. “As julle ander mense vergewe wanneer hulle iets verkeerds teen julle gedoen het, sal julle hemelse Vader ook julle sondes vergeef.

15. Moet egter nie dink God sal julle sondes vergewe as julle nie bereid is om ander mense te vergeef nie.”

16. “Wanneer julle julle so ernstig aan God toewy dat julle nie eens wil kos eet nie, moet julle nie soos die skynheiliges maak nie. In sulke tye loop hulle met ’n lang gesig rond sodat almal kan sien hulle vas. Ek sê weer: sulke mense het klaar hulle beloning weg.

17. Moenie ’n spektakel van julle godsdiens maak nie. Gaan normaalweg aan met julle lewe wanneer julle vas: kam julle hare, was julle gesigte. Lyk netjies sodat niemand agterkom dat julle besig is om ernstig te bid nie.

Lees volledige hoofstuk Matteus 6