Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 26:56-70 Die Boodskap (DB)

56. Maar dit verbaas My nie, want dit waaroor die profete lank terug geskryf het, gebeur nou hier voor ons almal se oë.” Terwyl Hy so praat, het sy dissipels gemaak dat hulle wegkom.

57. Hulle het Jesus daarna na die hoëpriester, Kajafas, toe gevat. Al die Joodse leiers het klaar daar gesit en wag.

58. Petrus het hulle op ’n veilige afstand gevolg tot by daardie huis. Daar het hy tussen die werksmense in die agterplaas gaan sit om te kyk wat gebeur.

59. Die Joodse leiers het saamgewerk met die Joodse Raad om klagtes teen Jesus te soek wat hulle rede sou gee om Hom dood te maak. Dit het nie saak gemaak of dit waar was of nie.

60. Daar was nie ’n tekort aan mense wat bereid was om allerhande liegstories oor Jesus te vertel nie. Maar hulle stories was so swak dat niemand hulle sou glo nie. Uiteindelik kry hulle toe twee wat

61. gesê het: “Hierdie man het beweer: ‘Ek kan hierdie tempel tot op die grond afbreek en in drie dae weer opbou net soos dit was.’”

62. Die hoëpriester staan toe op en sê vir Jesus: “Nou toe, jy het die ernstige klag van hierdie mense teen jou gehoor. Wat sê jy daarvan?”

63. Jesus het egter doodstil gebly. Vererg sê die hoëpriester: “Ek beveel jou op gesag van God, sê vir ons: Is jy die Christus, die Seun van God - ja of nee?”

64. Hierdie keer het Jesus nie stilgebly nie: “Jy sê dit self. Maar dit is maar die begin! Julle sal dit van nou af self ook sien. Julle sal die Seun sien sit aan die regterhand van Hom wat al die mag het. Julle sal Hom op die wolke sien kom.”

65. Dit was waarvoor die hoëpriester gewag het. Hy staan toe op en skeur sy klere sodat almal kan sien hoe ontsteld en woedend hy is. “Nou het jy te ver gegaan! Jy het die eer van God aangetas. Vir wat soek ons nog aanklagte? Julle almal het mos gehoor watter vreeslike dinge hierdie man kwytraak. Hy het selfs God seergemaak met wat Hy hier durf sê het.

66. Dink julle nie ook so nie?” Die ander het geesdriftig saamgestem. “Geen kwessie nie! Hy moet doodgemaak word. Dit sal sy verdiende loon wees!”

67. Hulle dam Hom toe met die vuis by en spoeg Hom in die gesig.

68. Terwyl hulle Hom klap, jou hulle Hom uit: “Wie’t jou geklap, Christus? Toe, sê vir ons. Jy noem jouself mos ’n profeet!”

69. Terwyl hulle binne so tekere gaan, het Petrus buite in die agterplaas gesit. Een van die werkers kom toe daar na hom toe. Dit was ’n vrou. “Vir jou het ek al gesien. Jy is mos een van die vriende van Jesus, die man uit Galilea.”

70. Petrus skud sy kop heftig voor almal. “Moenie laf wees nie! Ek weet nie eens van wie jy praat nie.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 26