Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 24:29-41 Die Boodskap (DB)

29. “Daardie swaarkry sal skaars verby wees of die son sal skielik dowwer word, en die maan sal glad nie meer opkom nie. Die sterre sal uit die hemel val en die natuurwette wat die skepping beheer, sal hulle krag verloor.

30. Hierdie dinge is die teken waarvoor julle moet wag. Dan sal die Seun soos ’n weerligstraal kom. Wanneer dit gebeur, sal mense wat hulle nie aan God wou steur nie oral openlik in trane uitbars. Wanneer hulle die wonderlike glans en krag van die Seun sien, gaan hulle hartverskeurend huil en uitskreeu: ‘Wat het ons besiel om nie te luister nie, wat het ons aangevang!’

31. Terselfdertyd sal die Seun se hemelse helpers al God se mense oor die hele wêreld gaan haal en na Hom toe bring.

32. “Julle het gevra wanneer die Seun gaan kom. Luister na hierdie voorbeeld uit die natuur: Hoe weet ’n boer die somer is naby? Hy kyk na die vrugtebome. As hulle begin blaartjies en blommetjies maak, weet hy dat die somer op hande is.

33. Net so moet al hierdie dinge waarvan Ek nou gepraat het, vir julle die blaartjies en blommetjies wees wat sê dat die Seun op pad is.

34. “Luister mooi. Wat Ek hier sê, is vir julle bedoel. In julle leeftyd sal hierdie dinge al begin gebeur. Moenie dink dit is blote praatjies nie.

35. Julle dink die aarde en die hemel staan vas, maar Ek sê vir julle dat my woorde 100 maal vaster staan.

36. “As julle na alles wat Ek gesê het nog nie tevrede is nie, maar die presiese uur, minuut en sekonde van die wederkoms wil weet, moet Ek julle teleurstel. Niemand weet wanneer die wederkoms gaan plaasvind nie, nie eens Ek nie. God en net Hy alleen sal daaroor besluit.

37. “Maar laat Ek julle ten minste nog ’n voorbeeld gee. Miskien help dit. Julle almal ken die verhaal van Noag.

38. Terwyl Noag aan die ark geswoeg het, het die ander mense doodnormaal geleef asof niks gaan gebeur nie. Hulle het hulle aan niks anders gesteur as aan die alledaagse dinge soos wat daar te ete is of wie met wie trou nie. As jy na hulle gekyk het, het dit gelyk asof daar geen probleme was nie. Toe klim Noag in die ark, en dit het hulle ook nie beïndruk nie.

39. Hulle het net gestaan en wonder waarom Noag nou so iets doen. Toe begin die reën val en val. Alles spoel later weg; hulle huise, diere en uiteindelik ook hulle self. Die koms van die Seun sal mense wat voortgaan asof niks gaan gebeur nie, ook so verras.

40. Twee mans sal op dieselfde land werk - die een sal gereed wees vir die Seun se koms en die ander een nie. Daarom sal Jesus die een saamneem en die ander een los.

41. Net so sal twee vroue saam in die kombuis werk - Jesus sal die een kom haal en die ander een los.

Lees volledige hoofstuk Matteus 24