Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 24:28-46 Die Boodskap (DB)

28. Immers, aasvoëls kom ook in groot troppe rondom vrot vleis bymekaar.”

29. “Daardie swaarkry sal skaars verby wees of die son sal skielik dowwer word, en die maan sal glad nie meer opkom nie. Die sterre sal uit die hemel val en die natuurwette wat die skepping beheer, sal hulle krag verloor.

30. Hierdie dinge is die teken waarvoor julle moet wag. Dan sal die Seun soos ’n weerligstraal kom. Wanneer dit gebeur, sal mense wat hulle nie aan God wou steur nie oral openlik in trane uitbars. Wanneer hulle die wonderlike glans en krag van die Seun sien, gaan hulle hartverskeurend huil en uitskreeu: ‘Wat het ons besiel om nie te luister nie, wat het ons aangevang!’

31. Terselfdertyd sal die Seun se hemelse helpers al God se mense oor die hele wêreld gaan haal en na Hom toe bring.

32. “Julle het gevra wanneer die Seun gaan kom. Luister na hierdie voorbeeld uit die natuur: Hoe weet ’n boer die somer is naby? Hy kyk na die vrugtebome. As hulle begin blaartjies en blommetjies maak, weet hy dat die somer op hande is.

33. Net so moet al hierdie dinge waarvan Ek nou gepraat het, vir julle die blaartjies en blommetjies wees wat sê dat die Seun op pad is.

34. “Luister mooi. Wat Ek hier sê, is vir julle bedoel. In julle leeftyd sal hierdie dinge al begin gebeur. Moenie dink dit is blote praatjies nie.

35. Julle dink die aarde en die hemel staan vas, maar Ek sê vir julle dat my woorde 100 maal vaster staan.

36. “As julle na alles wat Ek gesê het nog nie tevrede is nie, maar die presiese uur, minuut en sekonde van die wederkoms wil weet, moet Ek julle teleurstel. Niemand weet wanneer die wederkoms gaan plaasvind nie, nie eens Ek nie. God en net Hy alleen sal daaroor besluit.

37. “Maar laat Ek julle ten minste nog ’n voorbeeld gee. Miskien help dit. Julle almal ken die verhaal van Noag.

38. Terwyl Noag aan die ark geswoeg het, het die ander mense doodnormaal geleef asof niks gaan gebeur nie. Hulle het hulle aan niks anders gesteur as aan die alledaagse dinge soos wat daar te ete is of wie met wie trou nie. As jy na hulle gekyk het, het dit gelyk asof daar geen probleme was nie. Toe klim Noag in die ark, en dit het hulle ook nie beïndruk nie.

39. Hulle het net gestaan en wonder waarom Noag nou so iets doen. Toe begin die reën val en val. Alles spoel later weg; hulle huise, diere en uiteindelik ook hulle self. Die koms van die Seun sal mense wat voortgaan asof niks gaan gebeur nie, ook so verras.

40. Twee mans sal op dieselfde land werk - die een sal gereed wees vir die Seun se koms en die ander een nie. Daarom sal Jesus die een saamneem en die ander een los.

41. Net so sal twee vroue saam in die kombuis werk - Jesus sal die een kom haal en die ander een los.

42. Sorg dat jy die een is wat reg is sodat die Here jou saamneem wanneer Hy kom.

43. “Dit beteken dat julle altyd gereed moet wees. Julle vra hoekom. Weet die eienaar van ’n huis miskien wanneer ’n dief by hom gaan inbreek? Natuurlik nie, want dan sou hy hom mos kon voorlê en keer dat hy inbreek. Dan sou daar nie so iets soos diefstal gewees het nie. Maar dit gebeur nie so nie. Die dief kom wanneer die eienaar dit nie verwag nie.

44. Net so sal dit gaan met die koms van die Here. Daarom moet julle maar altyd gereed wees. Dit is nie presies seker wanneer die Seun gaan kom nie, maar wanneer dit gebeur, moet julle reg wees.

45. “Laat Ek vir julle nog ’n voorbeeld gee. Watter soort werker sal ’n voorman van ’n fabriek gewoonlik die graagste oor die ander wil aanstel?

46. Dit is die persoon wat hard werk, of die voorman daar is om dit te sien of nie. Hy weet wat om te doen en doen dit.

Lees volledige hoofstuk Matteus 24