Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 23:25-38 Die Boodskap (DB)

25. “Sowaar, julle is soos iemand wat die buitekant van ’n skottel silwerskoon maak, maar dit binne-in net so vuil los. Dit is vir julle baie belangrik hoe mense van buite lyk. Hoe hulle egter van binne lyk, pla julle glad nie. Hulle kan selfs maar vol haat en allerhande ander lelike dinge wees, dit maak nie saak nie.

26. Fariseërs, maak tog asseblief julle oë oop! Sorg eers dat die binnekant mooi skoon is. Dan sal die skottel weer gebruik kan word.”

27. “Julle is regtig op die verkeerde pad. Julle is soos grafte wat bo-op netjies versorg is. Die grafsteen is mooi en die blomme op die graf is te pragtig. Maar binne-in die graf self is daar net ’n klomp dooie bene. Wat ’n kontras!

28. Grafte laat My aan julle dink. As ’n mens na julle kyk, lyk julle soos engeltjies. Maar as ’n mens ’n bietjie dieper kyk, lyk die prentjie anders: dan sien jy huigelaars en mense wat hulle glad nie aan God se wil steur nie.”

29. “Julle rig groot grafstene op vir julle belangrike mense. Julle bou monumente vir julle helde van ouds en sit gedurig met eerbied blomme daar neer. Hieroor is julle ernstig.

30. Julle beweer dat as julle destyds geleef het, julle nie hierdie manne van God kwaad sou aangedoen of sou doodgemaak het soos die mense destyds gedoen het nie.

31. Maar julle is maar net die kinders van daardie mense wat die manne van God vermoor het. Die appel val nie ver van die boom nie. Julle voorouers het die beker halfpad met die bloed van die manne van God volgemaak.

32. Toe, maak julle nou maar daardie werk vir hulle klaar. Maak die beker vol!

33. “Julle klomp bedrieërs! Dink julle julle sal julle uit die hel kan loslieg?

34. Dink dan maar weer! Daarom stuur Ek aanhoudend manne van God na julle toe. Hulle probeer julle op allerhande maniere op die regte pad help. En wat doen julle met hulle? Hierdie een gryp julle en maak hom dood. Daardie een laat julle aan ’n kruis vasslaan. Ander verneder julle voor almal deur hulle by julle vergaderings uit te skel en selfs te slaan. As hulle probeer wegkom, probeer julle dit ook vir hulle so moeilik moontlik maak. Oral waar hulle gaan, is dit dieselfde storie: belediging en vervolging. Daarvoor sorg julle maar alte goed.

35. “Maar julle skuld hoop op. Glo My, God sal julle aankla vir elke druppel bloed van elke goeie mens wat op die grond geval het. Hy gaan julle by Abel begin aankla. Abel was mos ’n goeie mens, maar hy is doodgemaak. Een vir een sal julle na God se aanklagte moet luister tot by Sagaria, Berekja se seun. Julle het hom mos in die middel van die tempel reg voor God se oë doodgemaak.

36. Ek sê julle, julle is net so skuldig soos julle voorouers. God sal julle nie laat loskom nie.

37. “Ai, wat maak julle, mense van Jerusalem? Julle gooi die boodskappers wat God na julle toe stuur met klippe dood. Ek wou julle so graag omhels en julle Vriend wees; glo My, Ek wou. Ek het oor julle gevoel soos ’n hen oor haar kuikens. Maar julle wou niks weet nie. Julle het julle rug vir My gedraai. Daarom kan dit nie anders nie. Daar sal niks vir julle oorbly nie. Alles om julle gaan inmekaarstort.

38. Jerusalem gaan ’n spookdorp word.

Lees volledige hoofstuk Matteus 23