Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 22:9-15 Die Boodskap (DB)

9. Gaan nooi nou almal uit wat julle in die hande kry. Dit maak nie saak waar hulle is nie.’

10. Die helpers is daar weg en het almal voor die voet genooi. Die feessaal het begin vol loop. Die fees kon begin. “Die slawe het ook vir elkeen wat fees toe gekom het mooi klere gegee om aan te trek. Dit het gewys dat hulle nou gaste van die koning is.

11. Toe die koning die saal inkom, val sy oog egter op iemand wat nie sulke feesklere aanhet nie. Die man wou natuurlik daar buite nie erken dat hy die uitnodiging nie wou aanneem en vriende met die koning wou wees nie. Tog het hy skelm by die fees ingeglip.

12. Die koning vra hom toe: ‘Ou maat, wat soek jy hier? Jy het seker gedink jy kan skelm hier inkom, want as jy saam met my helpers hiernatoe gekom het, sou hulle vir jou ook mooi klere gegee het. Toe hulle jou daar buite uitgenooi het, het jy natuurlik gemaak of jy jou nie aan hulle steur nie, nie waar nie?’ Die man was vas; hy het nie geweet wat om te sê nie.

13. Die koning sê toe vir sy helpers: ‘Gooi hierdie man hier uit! Raak daar buite in die donker van hom ontslae. In die hel sal hy voel wat dit beteken om van pyn op jou tande te kners.’

14. “Onthou, baie sal die uitnodiging hoor, maar nie naastenby almal sal die hemelse fees haal nie.”

15. Die Joodse godsdienstige leiers het daarna koppe bymekaar gaan sit. Hulle wou so graag hê dat Jesus iets moes sê wat Hom in die moeilikheid sou bring. Hulle het saam beplan hoe hulle dit sou regkry. Hulle het besluit om Hom met ’n moeilike politieke saak in ’n strik te laat trap.

Lees volledige hoofstuk Matteus 22