Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 14:13-18 Die Boodskap (DB)

13. Toe Jesus die slegte nuus oor Johannes se dood hoor, het Hy in ’n skuit geklim en na ’n eensame plek weggevaar. Hy wou graag alleen wees omdat Hy hartseer was oor Johannes se dood. Die mense het egter gehoor waarheen Hy op pad was. Kort voor lank het inwoners van die dorpe rondom die See van Galilea daarheen begin stroom.

14. Toe Jesus by sy bestemming aankom, het ’n groot skare Hom ingewag. Toe Hy hulle sien, het Hy hulle baie jammer gekry, veral toe Hy al die siekes sien wat op Hom wag. Hy het dadelik begin om hulle gesond te maak.

15. Later, toe dit aand word, het die dissipels bekommerd geraak. Hulle het vir Jesus kom sê: “Ons is hier op ’n verlate plek en dit word al donker. Stuur die mense terug na hulle huise toe sodat hulle kan gaan eet.”

16. “Dit is nie nodig dat hulle nou al huis toe gaan nie. Gee julle sommer vir hulle iets om te eet,” het Jesus geantwoord.

17. “Ons het net vyf brode en twee visse hier by ons,” het hulle verbaas gereageer.

18. Jesus sê toe: “Bring dit hier.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 14