Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 13:19-30 Die Boodskap (DB)

19. Die Bose sorg dan dat daardie mense baie gou vergeet wat hulle gehoor het. Die Bose pik as’t ware die woorde uit daardie mense se gedagtes uit.

20. “Daar het ook saad in die holtes van die rotse geval ... Party mense hoor die boodskap van God en is dan baie opgewonde, maar net ’n rukkie lank. Sodra hulle geloof iets van hulle begin vra of hulle opofferings moet maak, is hulle skielik nie meer so opgewonde en oortuig van alles nie.

21. Gou bly daar niks meer van hulle sogenaamde nuwe geloof oor nie.

22. “Ander saad het weer tussen die doringbosse geval ... Dit is soos iemand wat God se boodskap gretig aanvaar. En tog, in die alledaagse lewe word die eise wat sy beroep stel en al die ander dinge waarmee hy hom besig hou, ja, selfs die gejaag na geld, vir hom belangriker as sy geloof. Hy het nie meer tyd of krag oor om vir die Here te werk nie. So verdring al hierdie ander dinge die geloof eenvoudig uit sy lewe uit. Later kan ’n mens nie eens meer agterkom dat hierdie persoon Jesus se boodskap so gretig aanvaar het nie.

23. “Daar was ook goeie grond waarin die saad geval het ... Dit is iemand wat die boodskap van God gehoor het en diep daardeur getref is. Hy het met oorgawe reg begin leef. In alles wat hy doen of sê, borrel sy Christenskap eenvoudig uit. Daar is geen keer aan nie.”

24. “Maar Ek het nog ’n verhaal vir julle. Vergelyk nou hierdie verhaal met ’n geestelike waarheid oor hoe God in die wêreld regeer. “Daar was ’n boer. Hy het skoon saad, sonder enige onkruid tussenin, in sy land gesaai.

25. Daardie nag, terwyl almal slaap, kom sy vyand skelm en saai ’n klomp onkruid tussen sy koring. Hierdie onkruid het baie soos koring gelyk, maar toe die oes kom, was daar nie ’n enkele koringaar aan die plante nie. Die koring en die onkruid het natuurlik lustig saamgegroei.

26. Toe die koringare begin vorm, kom die plaaswerkers die probleem agter.

27. Hulle is toe reguit na die boer toe. ‘Meneer, jy het dan sulke mooi skoon saad gesaai. Hoe is dit moontlik dat die land so vol onkruid staan?’

28. Die boer sê toe: ‘Wie anders as die vyand sal so iets doen?’“‘Moet ons die lande gaan skoonmaak?’ wou die werkers weet.

29. ‘Nee,’ sê die boer, ‘netnou trek julle van die koring saam met die onkruid uit.

30. Die onkruid moet nou maar saam met die koring groei tot die koring ryp is. As ons begin oes, sal ons eers die onkruid uithaal en verbrand. Dan kan ons die koring oes en in die skuur bêre.’”

Lees volledige hoofstuk Matteus 13