Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 12:35-46 Die Boodskap (DB)

35. As jy luister na wat iemand sê, sal jy agterkom of sy gesindheid reg is en hy van ‘binne’ skoon is.

36. Juis daarom sê Ek vir julle: mense wat sommer allerhande lelike dinge van ander sê, sal met die finale oordeel hulle woorde voor God moet gaan verduidelik. Wat jy sê, is dus verskriklik belangrik.

37. Immers, op grond van wat jy sê, sal God besluit of jou saak met Hom reg is of nie.”

38. Van die geleerde Jode antwoord Jesus toe: “Ons sien jy leer die mense so. Ons wil egter nie net ’n gepraat hoor nie. Doen ’n bietjie vir ons iets dat ons kan sien of jy regtig aan God se kant is.”

39. “Ai,” sê Jesus, “mense wat voeling met God verloor en die pad byster geraak het, soek allerhande tekens om hulle te help om by God uit te kom. Ek gaan julle nie in julle kwaad sterk en ’n spesiale teken vir julle gee nie. Tog gaan Ek een uitsondering maak.

40. Iets soortgelyks gaan met My gebeur as wat met die profeet Jona gebeur het. Drie dae en nagte was Jona in die groot vis. Net so sal die Seun van die mens drie dae en nagte lank in ’n graf lê. “Die vergelyking gaan nog verder.

41. Die mense van Nineve vir wie Jona gepreek het, sal by die finale oordeel skouer aan skouer met julle almal staan. Die gehoorsaamheid van die Nineviete sal julle egter in ’n baie slegte lig voor God stel. Die Nineviete het immers Jona se boodskap van God af met oop arms aanvaar. Dit is meer as wat van julle gesê kan word. Hier voor julle staan Iemand wat duisend maal belangriker is as Jona, en wat maak julle? Julle wil nie luister nie! En julle moenie dink dit is net die Nineviete wat julle in die verleentheid gaan bring nie. Daar is nog baie ander wat vir julle ’n goeie voorbeeld gestel het, as julle maar net wou luister.

42. “Dink maar aan die koningin van Skeba wat die hele ent uit die verre Afrika gekom het om na die wyse koning Salomo te luister. En kyk, hier voor julle staan Een by wie Salomo kan gaan leer. En wat maak julle? Julle kibbel oor tekens. Julle sal sleg afsteek by die koningin van Skeba. Sy is die lewende bewys van hoe koppig julle regtig is.

43. “Maar Ek kan dit in ’n sekere sin verstaan. Julle weet, as ’n onrein gees uit ’n mens verwilder word, soek hy ’n ander plek waar hy kan bly. As hy nie so ’n plek kry nie,

44. sê hy vir homself: ‘Ek is moeg gesoek. Ek gaan kyk wat van die plek geword het waar ek eers gebly het.’ Daar gekom, vind hy die plek dolleeg, mooi skoon en reg.

45. Daarna gaan haal hy sommer nog ’n klomp ander bose geeste wat ook plek soek. Hulle is nog slegter as hy. Die hele bende van hulle bly dan sommer in die een huis. Sowaar, vir so ’n mens sou dit baie beter gewees het as hy nie die eerste keer uit die mag van die bose gees bevry is nie. Hy moes God maar liewer in sy lewe toegelaat het toe hy die kans gehad het. Dit is ’n les wat die slegte mense onder julle nog nie geleer het nie.”

46. Jesus was nog aan die praat toe sy ma en broers daar opdaag. Hulle wou iets vir Hom sê.

Lees volledige hoofstuk Matteus 12