Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 10:30-42 Die Boodskap (DB)

30. God gee natuurlik duisend maal meer vir julle om. Van kop tot tone is julle vir Hom belangrik.

31. Nou ja, as julle dit weet, hoef julle mos nie meer bang te wees vir wat mense aan julle kan doen nie.“Wees dus getroos, maar ook gewaarsku.

32. “Julle kan getroos wees as julle in die vyandige wêreld my boodskap bly verkondig, al gebeur wat ook al. Dan sal Ek baie goeie getuigskrifte oor julle vir my hemelse Vader gee.

33. “Wees ook gewaarsku dat iemand wat nie oor My wil praat as die gevaar nader kom nie, nie moet verwag dat Ek allerhande mooi dinge oor hom vir die hemelse Vader sal vertel nie.”

34. “Dit is nie altyd lekker en maklik om ’n Christen te wees nie. Daarom moet jy goed weet wat vir jou die belangrikste is.“Ek het nie gekom om almal net te paai of tevrede te hou nie.

35. My boodskap maak ook vyande. Mense wat nie met My saamstem nie, sal met My - en met julle - wil baklei. Hulle sal selfs teen ons wil oorlog maak. Dit moet julle besef: die oomblik toe Ek gekom het, het die verhoudings tussen mense gespanne begin raak.

36. Selfs die intiemste verhoudings het begin verkrummel, soos die verhouding tussen ’n seun en sy pa, tussen ’n dogter en haar ma, ’n bruid en haar skoonma. Ja, tot die gesin, waarin mense veronderstel is om mekaar die liefste te hê, sal nie gespaar bly nie. “Julle vra waarom. Wel, dit gaan eintlik oor wie of wat vir jou as Christen die belangrikste is.

37. Luister, as jy voel dat jy liewer lojaal moet bly aan jou pa of ma as aan My, verdien jy My nie. Dieselfde geld vir jou seun of dogter of wie ook al. Ek moet altyd vir jou die belangrikste van almal wees. Ek moet die belangrikste in jou lewe wees.“Ja, alles gaan oor wie of wat vir jou die belangrikste is.

38. Iemand wat sy lewe die moeite werd probeer maak deur heeltyd agter mense aan te hardloop, sal agterkom dat hy die ware lewe heeltemal misloop.

39. Wie egter bereid is om aardse opofferings te maak omdat hy My bo alles liefhet, sal ontdek wat dit beteken om werklik te leef.

40. “Ons almal werk mos in een span saam. As een lid van die span punte aanteken, is dit tog die hele span se punte. So is dit ook met ons. As iemand julle met oop arms aanvaar en julle vriend wil wees, is hy eintlik my vriend ook. En as hy my vriend is, is hy eintlik ook die vriend van my Vader wat My na julle toe gestuur het.

41. As iemand bereid is om na die boodskapper van God te luister, sal hy mos God ook met hom hoor praat. Maak dus vriende met mense wat reg lewe, net soos julle. Julle wil tog graag doen wat God wil hê. God sal vir julle goed wees.

42. “Luister mooi. Weet julle wie kan seker wees van sy plek by God in die hemel? Kom Ek sê vir julle: sê nou ’n vriend van My is dors. Ek praat nou van ’n vriend van My aan wie niemand hulle eintlik steur nie omdat hy arm is en geen aansien het nie. Iemand sien hy is dors en stap nader met ’n beker koue water in sy hand. Hy gee dit vir my vriend. Saam met die beker water gee hy ook sy vriendskap vir hierdie onbelangrike man. As die dors man vra: ‘Waarom doen jy dit?’ antwoord die ander man: ‘Omdat jy Jesus se vriend is.’ Wel, vir so iemand sal God ook sorg.”So het Jesus sy dissipels voorberei vir wat op hulle wag. Daarna is Jesus na die omliggende dorpies toe om die mense verder van God te vertel.

Lees volledige hoofstuk Matteus 10