Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 5:34-42-43 Die Boodskap (DB)

34. Jesus sê toe vir haar: “Jou dae van seerkry en swaarkry is verby. Omdat jy My so vertrou het, sal die siekte jou nooit weer pla nie. Gaan lewe voluit sonder die pyn en bekommernis.”

35. Jesus was nog besig om met die vrou te praat toe ’n paar mans van Jaïrus (die leier van die sinagoge) se huis af daar aankom. Hulle het slegte nuus gehad: “Jou dogter is dood. Los vir Jesus. Moet Hom nie verder pla nie.”

36. Jesus het dit gehoor en vir Jaïrus gesê: “Moenie dat dit jou ontstel nie. Vertrou My net.”

37. Jesus, saam met Petrus en die twee broers, Jakobus en Johannes, is toe alleen verder. Jesus wou nie hê dat al die mense moes saamgaan nie.

38. Toe hulle by Jaïrus se huis aankom, was daar ’n groot klomp mense wat vreeslik huil en rou. Hulle het vreeslik te kere gegaan en ’n lawaai gemaak.

39. Jesus gaan toe in en vra vir hulle: “Vir wat gaan julle so te kere? Die kind slaap net. Sy is nie dood nie.”

40. Die mense bars toe uit van die lag asof Jesus nie weet wat Hy sê nie. Hy jaag toe al die mense uit die huis uit, behalwe die ouers en sy drie volgelinge. Saam is hulle na die bed van die dogtertjie toe.

41. Jesus vat die dogtertjie se hand en sê: “Talita koem!” (Dit beteken: “Dogtertjie, Ek sê, staan op.”)

42-43. Die dogtertjie het dadelik opgestaan en tussen hulle rondgestap. Sy was twaalf jaar oud. Jesus vra toe dat iemand vir haar kos moet gee. Die mense wat daar gestaan het, was totaal uit die veld geslaan. Jesus het hulle baie mooi gevra om nie vir enigiemand te vertel wat daar gebeur het nie.

Lees volledige hoofstuk Markus 5