Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 10:19-30 Die Boodskap (DB)

19. Wel, jy ken mos die wil van God soos ons dit uit die wet leer. Daar staan dat jy nie iemand mag doodmaak nie, dat jy nie ontrou aan jou huweliksmaat moet wees nie, dat jy nie ander se goed mag vat nie, dat jy nie mag lieg of mense onder die verkeerde indruk bring en hulle so om die bos lei nie, en dat jy jou ouers met respek moet behandel.”

20. “Ek doen al dié dinge van kleins af al, Meneer,” sê die man vir Jesus.

21. Jesus kyk toe na hom. Dit was ’n oulike man van wie Jesus gehou het. “Daar is een ding wat jy nie reg doen nie. Gaan verkoop alles wat jy het en gee dan die geld vir die mense wat niks het nie. Op dié manier sal jy ryk wees in die oë van God. Nadat jy dit gedoen het, kom terug en word een van my volgelinge.”

22. Aan die man se gesig kon ’n mens sien dat hy baie teleurgestel en uit die veld geslaan was, want hy was baie ryk. Met ’n hartseer uitdrukking op sy gesig is hy daar weg.

23. Jesus bekyk die situasie toe so en sê vir sy getrouste volgelinge: “Ai, wat ’n opdraande pad is dit nie vir ryk mense om deel te word van God se nuwe wêreld nie.”

24. Dié woorde het Jesus se volgelinge nogal verbaas. Maar Jesus het verder gepraat: “My kinders, dit is glad nie so maklik om in die nuwe wêreld van God in te gaan nie.

25. Om die waarheid te sê, ’n olifant sal eerder deur die oog van ’n naald kan stap as wat ’n ryke in God se nuwe wêreld sal kan instap.”

26. Nou was Jesus se volgelinge eers verbaas. Hulle sê toe vir mekaar: “Wie op aarde sal dan in God se nuwe wêreld kan kom?”

27. Jesus kyk toe vir hulle en sê: “Dit lyk miskien vir mense onmoontlik, maar God kan alles doen. Niks is vir Hom onmoontlik nie.”

28. Petrus begin toe noem wat hy gedoen het: “Wel, ons was darem gewillig om alles te laat staan en agter U aan te kom.”

29. “Luister nou mooi wat Ek sê,” sê Jesus. “Daar is niemand wat iets vir My en my boodskap prysgegee het wat nie honderd maal soveel sal terugkry nie. Dit maak nie saak of dit sy huis, broers of susters, sy ma of pa of kinders of sy grond is nie.

30. As Christen kry hy nou by al sy mede-Christene huise en broers en susters en ma’s en kinders en grond. Maar Christenskap is nie net lekker nie. ’n Mens sal soms ook swaarkry omdat jy ’n Christen is. Maar wanneer God weer kom, sal so ’n persoon die ewige lewe ook kry.

Lees volledige hoofstuk Markus 10