Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 8:34-40 Die Boodskap (DB)

34. Die mans wat die varke opgepas het, het hulle morsdood geskrik toe hulle sien wat gebeur. Hulle het dadelik teruggehardloop na hulle dorp toe. So ver as wat hulle gehardloop het, het hulle vir almal langs die pad vertel wat gebeur het. Kort voor lank was almal in rep en roer.

35. ’n Klomp mense het vinnig na die plek toe gekom waar Jesus die duiwels uit die man verjaag het. Hulle wou sien wat aan die gang was. Toe hulle daar aankom, sien hulle die man wat vol duiwels was aan Jesus se voete sit. Hy het klere aangehad en rustig geluister na wat Jesus sê. Toe het die mense bang geword.

36. Terwyl hulle so staan en kyk, het diegene wat gesien het wat gebeur opgewonde vir hulle vertel hoe Jesus die duiwels uit die man verdryf het.

37. Die mense van Gerasa het toe vir Jesus gevra om liewer pad te gee. Hulle was baie bang en het nie kans gesien dat nog sulke dinge daar by hulle gebeur nie. Jesus het toe in die boot geklim en teruggegaan na die oorkant toe.

38. Net voordat Jesus vertrek het, het die man uit wie Hy die duiwels verdryf het Hom gevra of hy nie by Hom kon bly nie. Jesus het gesê:

39. “Gaan terug na jou eie mense toe en vertel hulle watter wonderlike dinge God vir jou gedoen het.” Daarna het die man vir almal in sy dorp gaan vertel watter wonderlike dinge Jesus vir hom gedoen het.

40. Toe Jesus weer in Galilea aankom, het ’n skare mense Hom ingewag. Hulle was baie bly om Hom te sien.

Lees volledige hoofstuk Lukas 8