Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 7:17-28 Die Boodskap (DB)

17. Die nuus oor hierdie wonderwerk het soos ’n veldbrand deur die hele gebied versprei, selfs deur Judea.

18. Johannes die Doper het intussen ook gehoor wat Jesus alles doen. Sy volgelinge het hom op hoogte gehou van al Jesus se doen en late.

19. Johannes het toe twee van hulle na die Here toe gestuur om vir Hom te vra: “Is U regtig die Een wat van God af na ons toe gestuur is, of nie? Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie die fout maak om dalk vir die verkeerde een te wag nie.”

20-21. Toe Johannes se volgelinge by Jesus kom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U toe laat kom. Hy wil weet of U die Een is wat van God af na ons toe gestuur is, of nie. Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie die fout maak om dalk vir die verkeerde een te wag nie.” Jesus was juis besig om ’n skare mense van allerhande siektes gesond te maak. Hy het mense bevry wat in die mag van bose geeste was en blindes laat sien.

22. Jesus sê toe vir hulle: “Kyk om julle. Kyk na al die wonderwerke wat Ek doen. En luister mooi na wat Ek sê. Gaan vertel dan vir Johannes: mense wat nie kon sien nie, sien nou weer; mense wat glad nie kon loop nie, stap nou weer rond; mense wat eenkant moes bly omdat hulle melaats was, is nou heeltemal gesond; dowes kan weer hoor; mense wat dood was, leef weer, en mense wat niks het nie, hoor nou skielik dat hulle vir God baie spesiaal is.

23. “Gelukkig is elkeen wat nie twyfel of Ek regtig die Een is wat van God af kom nie.”

24. Toe Johannes se volgelinge daar weg is, het Jesus verder met die groot skare oor Johannes gepraat: “Wat het julle verwag om te sien toe julle agter Johannes die woestyn in is? Die een of ander kansvatter wat niks beteken nie? Natuurlik nie!

25. Of dalk ’n ryk man wat mooi klere dra? Nee. Julle weet mos dat ryk mense nie in die woestyn bly nie. Hulle sit heeldag in groot, gerieflike huise, omring met alles wat hulle begeer.

26. Ek vra weer ’n keer, wat het julle verwag om te sien? ’n Boodskapper van God? Wel, dan is julle heeltemal reg. Johannes is regtig ’n profeet.

27. Om die waarheid te sê, hy is die heel belangrikste profeet wat nog ooit geleef het. Wat Maleagi geskryf het, is van hom waar:‘Ek, God, stuur iemand voor jou uit om vir almal te vertel dat jy kom. Hy sal sorg dat die mense van jou weet sodat jy jou werk makliker kan doen.’

28. “Daar was nog nooit in die geskiedenis so ’n belangrike man soos Johannes nie. En tog is almal in God se nuwe wêreld waarvoor hy julle wou voorberei belangriker as hy, selfs die heel onbelangrikste persoon.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 7