Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 6:28-38 Die Boodskap (DB)

28. “Spreek die Here se seën uit oor elkeen wat julle vloek. Moenie iets leliks terugsê nie. Bid vir almal wat julle beledig.

29. “As iemand jou deur jou gesig klap om jou te beledig, moenie terugslaan nie. Nee, sê vir hom om jou sommer nog ’n keer op jou ander wang te klap.“As iemand jou klere wil vat, skenk dan nog ’n ekstra stel van jou beste klere aan hom.

30. “As iemand iets van jou wil hê, gee dit. Wanneer iemand iets van jou gevat het, moenie dit later gaan terugvra nie.

31. “As daar een reël is waarvolgens julle moet lewe, is dit die volgende: vra julle af hoe julle wil hê ander mense teenoor julle moet optree. Spring hulle dan voor: gaan tree eerste so teenoor hulle op.

32. “As julle net daardie mense liefhet met wie julle goed oor die weg kom en wat lief is vir julle, moet julle nie verwag om ’n medalje vir goeie diens by God daarvoor te kry nie. Almal doen dit tog, ook die slegte mense wat hulle nie aan God steur nie. En as julle net goeie dinge doen vir dié wat goeie dinge vir julle doen, het julle nog niks besonders gedoen nie. Selfs slegte mense doen dit ook.

33. As julle ook net bereid is om iets te leen aan mense wat dit later aan julle sal teruggee, het julle nog niks buitengewoons gedoen nie. Sondaars doen dit ook.

34. Hulle leen ook dinge aan hulle vriende, solank hulle dit op die ou end net terugkry.

35. “Ek sê vir julle: julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan hulle. Deel julle besittings met ander sonder om iets terug te verwag. Dan wag daar ’n groot prys op julle in die hemel. As julle vir ander mense omgee sonder om enigiets terug te verwag, is julle regtig kinders van die Allerhoogste.

36. Want dit is presies hoe God is. Hy gee baie om vir almal hier op die aarde, of hulle goed is of sleg. Julle moet soos God wees: maak julle hart en julle hande oop vir ander mense. Gee regtig vir hulle om.”

37. “Moenie ander mense oordeel nie. Dan sal God julle ook nie oordeel nie. Moenie ander mense tot in die doderyk verdoem nie. Dan sal God julle ook nie verdoem nie. Vergeef ander mense, dan sal God julle ook vergewe.

38. “Deel julle besittings met ander, dan sal God vir julle sorg. Julle sal nooit te min hê om van te leef nie. Julle sal van kop tot tone oorlaai word met goeie dinge. Ja, julle ganse lewe sal oorloop van goedheid. Al die goeie dinge wat julle met ander deel, sal op verrassende maniere na julle toe terugkom.

Lees volledige hoofstuk Lukas 6