Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 4:21-36 Die Boodskap (DB)

21. Toe sê Hy: “Vandag het al hierdie woorde uit die Bybel waar geword, reg voor julle oë.”

22. Almal in die sinagoge was stomgeslaan. Hulle kon nie glo dat Jesus sulke mooi dinge sê nie. “Is hy dan nie Josef se seun nie?” het hulle onder mekaar gevra. “Is dit nie verstommend dat hy sulke dinge sê nie?”

23. Toe sê Jesus vir die mense: “Julle sal seker nou vir My sê: ‘Dokter, maak jouself gesond.’ Julle weet mos van al die genesings en wonderwerke wat Ek in Kapernaum gedoen het. Nou wil julle seker hê dat Ek dieselfde dinge hier in my tuisdorp, onder my eie mense moet kom doen.

24. Wel, Ek het nuus vir julle. Geen boodskapper van God word ooit deur sy eie mense aanvaar nie.

25. Kyk maar net na julle eie geskiedenis, dan sal julle sien Ek praat die waarheid. Vat nou maar vir Elia. In sy tyd was daar ’n baie groot hongersnood in Israel. ’n Volle drie en ’n half jaar lank het die mense doodgegaan van die honger.

26. Tog het Elia nie na een van die weduwees in Israel toe gegaan nie. Nee, God het hom net na ’n weduwee in Sarfat, daar in die heidense gebied van Sidon, gestuur.

27. En in die tyd van die profeet Elisa was daar ook baie melaatses in Israel. Tog het God net vir Naäman die Siriër gesond laat word van sy melaatsheid.”

28. Toe die mense in die sinagoge hoor wat Jesus sê, het hulle ontplof van woede.

29. Hulle het opgespring en Jesus hardhandig uit die dorp verwilder. Hulle het Hom na ’n kloof toe gevat op die kant van die berg waarop Nasaret gebou was. Daar wou hulle Hom afgooi.

30. Maar Jesus het eenvoudig tussen hulle deurgestap en uit Nasaret padgegee.

31. Hierna het Jesus na Kapernaum toe gegaan, ’n dorp in Galilea. Toe die sabbat aanbreek, het Hy die inwoners in die Joodse aanbiddingsplek gaan leer wat God van hulle vra.

32. Almal was verstom oor wat Hy gesê het. Daar was soveel gesag in sy woorde.

33. In die sinagoge was daar ’n man wat in die mag van ’n duiwel was. Toe hy naby Jesus kom, het die duiwel hom skielik hard laat skree:

34. “Wat het ons met Jou te doen, Jesus van Nasaret? Los ons uit! Dink Jy miskien dat Jy ons kan kom vernietig? Ek weet baie goed wie Jy is: Jy is daardie man wat van God af kom!”

35. Jesus het die duiwel dadelik stilgemaak: “Bly stil! Gee pad uit die man uit!”Die duiwel het die man toe op die grond neergegooi en padgegee. Gelukkig het hy nie seergekry nie.

36. Almal wat dit gesien het, was uitermate verbaas. Hulle het onder mekaar begin praat en gesê: “Wie is hierdie man dat hy met ’n enkele woord sulke groot dinge kan laat gebeur? Hy sê net vir die duiwels om pad te gee, dan doen hulle dit!”

Lees volledige hoofstuk Lukas 4