Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 3:16-29 Die Boodskap (DB)

16. Maar hy het gou ’n einde aan hierdie praatjies gemaak. Hy het vir die skare gesê: “Ek doop julle nou hier in die rivier met water. Maar ’n baie belangrike Man is op pad na julle toe. Hy is so belangrik dat ek nie eens werd is om soos ’n slaaf sy skoenveters los te maak nie. Weet julle, Hy sal nie water gebruik om julle mee te doop nie. Nee, Hy sal julle met die Heilige Gees doop. Hy sal ’n vuur in julle lewens aansteek wat julle lewens van binne af sal skoonmaak.

17. “Hierdie Man wat op pad is na julle toe gaan Israel van hoek tot kant skoonmaak. Hy gaan die koring van die kaf skei. Vir almal wat na Hom luister, sal Hy ’n plek gee in God se splinternuwe wêreld. Maar almal wat hulle nie aan God steur nie, sal Hy in die vuur van die hel gooi wat nooit ophou brand nie.”

18. Johannes het die mense aangespoor om te doen wat God vra. God se goeie nuus het dag na dag oor sy lippe weerklink.

19. Op ’n dag het Johannes vir Herodes, die heerser van Galilea, in die openbaar gekritiseer omdat hy sy broer Filippus se vrou, Herodias, afgevat het. Ook ’n hele rits ander sondes van Herodes is deur Johannes veroordeel. Herodes was woedend hieroor.

20. Hy het Johannes laat arresteer en hom in die tronk opgesluit.

21. Onder al die mense wat na Johannes toe gekom het om gedoop te word, was daar ’n baie belangrike Man: Jesus. Nadat Johannes Hom klaar gedoop het, het Jesus tot God gebid. Terwyl Hy nog besig was om te bid, het die hemel skielik oopgegaan.

22. Die Heilige Gees het soos ’n duif na Jesus toe afgekom. ’n Stem uit die hemel het ook hardop gesê: “Jy is my Seun vir wie Ek baie lief is. Oor Jou is Ek baie bly.”

23. Toe Jesus met sy werk begin het, was Hy ongeveer 30 jaar oud. Die meeste mense het gedink Hy was Josef se seun. Josef was weer die seun van Eli,

24. en hy die seun van Mattat. Mattat was Levi se seun. Levi was Melgi se seun, en hy die seun van Jannai. Jannai was die seun van Josef,

25. en hy die seun van Mattatias. Mattatias was Amos se seun. Amos was Nahum se seun, en hy die seun van Hesli. Hesli was die seun van Naggai,

26. die seun van Mahat. Mahat was die seun van Mattatias. Hy was Semeïn se seun, en Semeïn die seun van Josek. Josek was Joda se seun.

27. Joda was Johanan se seun. Johanan was Resa se seun, en hy die seun van Serubbabel, die seun van Sealtiël. Sealtiël was die seun van Neri.

28. Neri was Melgi se seun. Melgi was Addi se seun, en hy die seun van Kosam. Kosam was Elmadam se seun. Hy was Er se seun,

29. en Er die seun van Josua. Josua was Eliëser se seun. Hy was die seun van Jorim, en Jorim die seun van Mattat. Mattat was die seun van Levi.

Lees volledige hoofstuk Lukas 3