Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 20:14-29 Die Boodskap (DB)

14. “Maar toe die huurders die seun sien aankom, het hulle gou-gou koppe bymekaargesit: ‘Kyk, dis nou ons kans. As ons daardie seun doodmaak, sal ons later self die grond in die hande kan kry.’

15. “Toe pak die spul boere die seun en sleep hom tot buite die wingerd. Daar het hulle hom doodgemaak.”

16. Jesus vra toe vir die mense: “Wat dink julle sal die eienaar met die klomp boere doen wanneer hy terugkom na sy wingerd toe? Kom Ek sê vir julle: hy sal al daardie boere doodmaak en sy wingerd aan ander mense gee.”Maar ’n klomp van die godsdienstige leiers wat na Hom geluister het, het vinnig geantwoord: “Nee, so iets sal nooit gebeur nie! Jy probeer maak asof ons soos daardie slegte boere in die verhaal is.”

17. Jesus het hulle egter reguit in die oë gekyk en vir hulle gesê: “Julle is mos sulke danige kenners van die Bybel. Wel, sê ’n bietjie vir My wat die volgende teks beteken:‘’n Klip wat die bouers nie wou gebruik nie en sommer eenkant toe gegooi het, het God reg bokant die voordeur ingebou vir almal om te sien.’

18. “Oppas! Elkeen wat op hierdie ‘klip’ val, gaan bitter seerkry. Maar elkeen op wie hierdie ‘klip’ beland, gaan morsdood wees. Van hulle gaan daar net mooi niks oorbly nie.”Die Joodse godsdienstige leiers het die skimp gevang. Hulle het besef dat Jesus hierdie teks op Homself toegepas het en dat hulle die mense is wat Hom verwerp. Hulle was woedend daaroor. Hulle wou Hom sommer daar en dan in die tronk stop. Maar die gewone mense was baie beïndruk met Jesus. Daarom kon die leiers in daardie stadium niks aan Hom doen nie.

19. Die godsdienstige leiers wou hê dat Jesus iets moes sê wat Hom in die moeilikheid sou bring.

20. Hulle besluit toe om ’n paar mense na Hom toe te stuur wat maak asof hulle verskriklik vroom is. Hierdie mans moes vir Jesus ’n lokval stel sodat hulle Hom kon vang en aan die owerhede uitlewer as Hy iets verkeerds sê.

21. Toe hierdie mense by Jesus aankom, sê hulle: “Leermeester, ons het jou leer ken as iemand wat net die waarheid praat. Jy loop God se pad reguit en leer die mense om dit ook te doen. Ons sien ook jy probeer nie gewild wees nie. Wat mense oor jou sê of dink, pla jou nie.

22. Sê net gou vir ons, dink jy dis reg dat ons so baie belasting aan die Romeinse keiser betaal?”

23. Jesus sê toe: “Het iemand ’n geldstuk hier naby?” Vinnig het iemand vir Hom ’n muntstuk gegee.

24. Toe sê Jesus vir hulle: “Kyk mooi na dié geld. Wie se beeld is daarop en wie se naam is daarop geskryf?”“Die keiser s’n,” antwoord hulle.

25. “Nou ja, as hierdie geld met die keiser se beeld daarop die keiser s’n is, gee dit vir hom. Gee hom wat hy vra. Maar onthou: julle is volgens God se ‘beeld’ gemaak. Julle behoort aan Hom. Daarom moet julle julleself aan God gee. Die keiser is geregtig op julle geld, maar God is geregtig op julle hele lewe.”

26. Hierdie antwoord het die wind heeltemal uit die mense se seile gehaal. Hulle plan om Jesus daar voor die skare uit te vang het heeltemal misluk. Jesus se antwoord was so goed dat hulle nie geweet het wat om te sê nie. Stil-stil is hulle toe maar daar weg terwyl die skare Jesus geëer het.

27. Skaars was hierdie spul weg of ’n klompie Sadduseërs daag daar op. Hulle was ’n invloedryke Joodse groep wat nie in die lewe na die dood geglo het nie.

28. “Leermeester, jy weet goed wat Moses gesê het: as ’n getroude man sonder kinders doodgaan, moet sy broer met sy weduwee trou. Hulle moet dan ’n seun kry om so te sorg dat die familienaam nie uitsterf nie. Wel, nou het ons die volgende probleem wat jy asseblief vir ons moet oplos.

29. Sê nou daar is ’n familie met sewe seuns. Die eerste seun trou, maar gaan dood voor hy ’n kind kan hê.

Lees volledige hoofstuk Lukas 20