Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 18:5-15 Die Boodskap (DB)

5. En tog dink ek ek gaan daardie weduwee help. Wie weet, netnou maak sy my naam sleg, of dalk kom gee sy my sommer nog voor almal ’n oorveeg.’”

6. Die Here Jesus sê toe: “Sien julle dat daardie hardkoppige regsgeleerde op die ou end bereid was om die vrou te help?

7. Wat sal God dan nie alles doen vir sy kinders wat Hy persoonlik uitgekies het om in Hom te glo nie?

8. Hy luister na almal wat dag en nag tot Hom bid. Hy sal uitkoms gee. En gou ook! Hou maar net aan om te bid. “Ek is egter oor een ding bekommerd. Glo julle regtig wat Ek sê? Sê nou Ek kom later terug na die wêreld toe en Ek vind dan uit dat julle nooit aanhou glo het nie? Glo en bid, want een van die dae breek God se nuwe wêreld aan.”

9. Baie “godsdienstige” mense het gedink hulle saak met God is in orde omdat hulle allerhande godsdienstige wette streng gehoorsaam. Hierdie mense het op almal neergesien wat nie al dié wette gehou het nie. Jesus het net mooi niks van hierdie godsdienstige snobisme gehou nie. Hy het toe vir die mense die volgende verhaal vertel:

10. “Op ’n dag het twee mans daar na die tempel in Jerusalem toe gegaan om God te aanbid. Die een was ’n Fariseër en die ander een ’n belastinggaarder. (Hierdie belastinggaarders was bekend as tollenaars. Hulle het nie die godsdienstige wette gehoorsaam nie. Daarom is hulle as groot sondaars beskou.)

11. “Die Fariseër het toe begin bid: ‘God, ek sê vir U dankie dat ek nie ’n slegte mens is nie. Kyk net: ek steel nie ander mense se goed nie. Ek lieg en bedrieg nie. Ek slaap ook nie rond nie. Ja, en ek is ook nie so ’n groot sondaar soos hierdie tollenaar wat langs my staan nie.

12. “‘O ja, kyk net wat doen ek alles: ek vas twee keer elke week. Ek gee ook ’n tiende van elke sent wat ek verdien.’

13. “Die tollenaar het daar eenkant gaan staan. Hy het so skaam gekry oor al sy sondes dat hy nie eens wou opkyk nie. Hy het sy kop laat sak, met sy hand op sy bors geslaan en gesê: ‘God, ek is ’n sondaar. Help my! Wees my genadig!’”

14. Toe sê Jesus vir die mense wat na Hom luister: “Hierdie tollenaar se gebed is dadelik verhoor. God het sy lewe in ’n oogwink splinternuut gemaak. Maar die Fariseër het met leë hande daar weggestap. Hy het gedink hy lewe goed genoeg om ’n plek in die hemel te kry. Maar dit werk nie so nie. Almal wat te veel van hulleself dink om vir God te vra om hulle te red, sal nog baie spyt wees. Maar almal wat voor God kom buig en op Hom vertrou om hulle lewe splinternuut te maak, sal verhoog word.”

15. Kort daarna het ouers hulle klein kindertjies na Jesus toe gebring in die hoop dat Hy sy hande op hulle sou sit en vir hulle sou bid. Maar die dissipels het hulle weggejaag. Hulle wou nie hê dat die mense Jesus met sulke “onbelangrike” dinge lastig val nie.

Lees volledige hoofstuk Lukas 18