Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 13:16-29 Die Boodskap (DB)

16. Ek het vandag ’n Israelitiese vrou verlos wat agtien jaar lank deur die duiwel gekasty is. Na al die jare van swaarkry is sy uiteindelik vry. Is dit nie gepas dat sy juis op God se rusdag self ware rus moes vind nie?”

17. Die ander godsdienstige leiers wat ook vir Jesus kwaad was, het skaam gekry toe hulle hoor wat Hy sê. Maar die res van die mense was oorstelp van vreugde oor alles wat Jesus gedoen het.

18. Toe sê Jesus vir hulle: “Hoe kan Ek vir julle verduidelik hoe God se nuwe wêreld daar uitsien? Ja, kom Ek gebruik die volgende voorbeeld:

19. God se nuwe wêreld kan vergelyk word met ’n baie klein saadjie soos ’n mosterdsaadjie. Iemand vat dit en gaan plant dit in sy tuin. Uit hierdie piepklein saadjie groei later so ’n groot struik dat dit bo al die ander plante in die tuin uitstaan. Om die waarheid te sê, dis so groot dat al die voëls daarin nes kan maak.

20. “Hier is nog ’n voorbeeld hoe God se nuwe wêreld werk:

21. ’n Vrou vat ’n bietjie suurdeeg en knie dit dan baie goed in ’n skottel deeg in. Na ’n rukkie deurtrek die suurdeeg al die deeg in daardie skottel en laat dit rys.”

22. Terwyl Jesus op pad was Jerusalem toe het Hy langs die pad by die dorpe en die klein plekkies aangegaan en die mense daar gaan leer.

23. By een van hierdie plekke het iemand Hom gevra: “Here, hoeveel mense gaan ’n plek kry in God se nuwe wêreld? Seker maar min?”

24. “Ja, jy is reg. Baie mense sal probeer om daar in te kom, maar hulle gaan dit nie maak nie. Dit is nie maklik om daar in te kom nie. Daarom moet jy jou inspan as jy daar wil inkom. Doen jou uiterste bes. Want baie gaan probeer om daar in te kom, maar min mense gaan dit maak.

25. “Kom Ek gebruik ’n beeld om vir julle te verduidelik wie almal in my nuwe wêreld plek gaan kry. Weet julle, Ek is soos Iemand met ’n groot huis. Daar is natuurlik oorgenoeg plek in my huis vir almal wat doen wat Ek sê. Maar op ’n dag gaan Ek my huis se deur sluit. Dan sal baie mense wat nog buite staan, probeer inkom.

26. Hulle sal aan die deur klop en uitroep: ‘Here, Here, U het van ons vergeet. Ons staan nog buite. Maak asseblief vir ons oop!’

27. “Maar Ek sal van binne af antwoord: ‘Gaan weg! Ek weet nie wie julle is nie. Hier’s nie plek vir julle nie.’“Dan sal hulle antwoord: ‘Maar onthou U ons dan nie meer nie? Ons het saam met U geëet en feesgevier. Toe U hier by ons op die aarde was, het ons oral agter U aangeloop.’“Dan sal Ek antwoord: ‘Ek het nie die vaagste idee wie julle is of waarvandaan julle kom nie. Gee dadelik pad, julle goddelose spul! Hier in my huis is daar nie plek vir julle nie.’

28. “Waarheen dink julle moet daardie mense dan gaan? Na die doderyk toe, natuurlik. En daar is dit een groot hartseerspul. Veral vir dié van julle wat onder die misverstand verkeer dat julle ’n plek gaan kry in God se nuwe wêreld. Weet julle hoe verskriklik dit gaan wees as julle al die groot name uit julle geskiedenis, vir Abraham en Isak en Jakob en die profete, daar in God se wêreld sien, maar julle self moet buite staan? Julle sal huil en skreeu van die pyn. Maar dan is dit natuurlik te laat.

29. Van oor die hele wêreld sal mense na God se nuwe wêreld toe stroom terwyl julle spul wat gedink het dat net julle daar gaan plek kry, dit nie sal maak nie.

Lees volledige hoofstuk Lukas 13