Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 12:4-18 Die Boodskap (DB)

4. “Sê My, vir wie dink julle moet ’n mens die bangste wees, vir mense of vir God? Kyk ’n bietjie: Mense kan miskien jou liggaam doodmaak, maar dis al.

5. God kan baie meer as dit doen: Hy kan jou in die doderyk gooi. En dit is regtig iets om voor bang te wees!

6. “Wat dink julle sal iemand vir vyf mossies betaal? Hoogstens ’n paar sent. Hulle is nie veel werd nie. Maar tog gee God vir hulle om. Weet julle, God gee nog baie meer vir julle om. Van kop tot tone is julle vir Hom belangrik.

7. Ja, Hy gee so baie vir julle om dat Hy elke haar op julle elkeen se kop getel het. Moet daarom nie bang wees nie. Julle is kosbaar vir God.

8. “Hou aan om oor My te praat in die wêreld. Dan sal Ek julle ’n baie groot eer aandoen. Dan sal Ek, die Seun van die mens, ook oor julle praat daar in die hemel waar God se engele is.

9. Maar aan die ander kant, as julle tussen ander mense maak of julle My nie ken nie, sal Ek presies dieselfde met julle doen. Dan sal Ek ook daar voor die engele maak of Ek julle nie ken nie.

10. “Weet julle, daar is niks wat mense aan My kan doen of oor My kan sê wat so sleg is dat God hulle dit nie kan vergewe nie. Maar daar is wel een ding wat God glad nie kan verdra nie. Dit is as mense die rug draai vir die Heilige Gees se werk. Wanneer die Gees aan die werk is en mense sê dis die duiwel wat aan die werk is, is hulle in baie groot moeilikheid by God. Hy sal hulle dit nooit vergewe nie.

11. “Wanneer die mense julle baie sleg behandel omdat julle my volgelinge is, moet julle nie moed opgee nie. As hulle julle voor die hof sleep of voor allerhande hooggeplaastes, hoef julle julle nie te bekommer hoe julle julle gaan verdedig nie. Los maar die advokate en die prokureurs uit. Die Heilige Gees sal persoonlik daar by julle wees om julle te verdedig.

12. Wanneer julle beurt kom om iets te sê, sal die Gees vir julle al die regte woorde gee wat julle moet sê.”

13. Iemand uit die skare sê toe vir Jesus: “Goeie Leermeester, help my asseblief met my groot probleem. My pa is onlangs dood en nou wil my broer nie ons erfgeld met my deel nie. Hy hou alles net vir homself.”

14. “Hoor hier, dit is nie my werk om as regter in julle familietwiste op te tree of julle geldsake op te los nie,” het Jesus vinnig geantwoord.

15. Toe sê Jesus vir die mense: “Hoekom hardloop julle die hele tyd net agter geld aan? Die lewe gaan tog nie daaroor nie. ’n Mens se geluk hang mos nie af van hoeveel geld jy op jou naam het nie.

16. Kom Ek verduidelik wat Ek bedoel: Eendag was daar ’n baie ryk man. Hy was ’n groot boer wat die een goeie oes na die ander op sy lande gehad het.

17. Op ’n dag dink hy toe by homself: ‘Ek het ’n probleem. My skure is nie meer groot genoeg om al my oeste in te bêre nie.’

18. “Na ’n rukkie sê hy vir homself: ‘Nou weet ek. Ek gaan al my skure afbreek. Dan bou ek baie groter skure in hulle plek - groot genoeg om al my oeste in te bêre. En dan kan ek sommer al my kosbare besittings waarvoor ek nie meer plek in my huis het nie daar toesluit. Daarna kan ek agteroor sit en die lewe geniet.

Lees volledige hoofstuk Lukas 12