Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 11:2-10 Die Boodskap (DB)

2. Jesus sê toe vir hom: “Hier is ’n voorbeeld van hoe julle met God moet praat: “Ons Vader, laat almal op aarde groot eerbied vir u heilige Naam hê. Laat u nuwe wêreld tog gou aanbreek.

3. Gee ons asseblief elke dag genoeg om van te leef.

4. Vergeef ons waar ons nie doen wat U van ons vra nie, net soos ons almal vergewe wat nie reg teenoor ons optree nie. En help ons om nooit te swig voor versoekings nie.”

5. Daarna het Jesus vir sy volgelinge ’n verhaal vertel: “Stel julle die volgende toneel voor: ’n vriend kom onverwags in die middel van die nag by ’n man se huis aan. Hy staan toe dadelik op en nooi hom in. Hy wou vir sy vriend iets te ete gee, maar ontdek toe daar is nie ’n krieseltjie kos in sy huis nie. Hy stap toe gou oor na ’n ander goeie vriend van hom en klop hom wakker. ‘Ag, ek is verskriklik jammer om jou so laat in die nag lastig te val.

6. Maar ’n goeie vriend van my het uit die bloute daar by my aangekom. En my huis is dolleeg. Ek het nie ’n stukkie kos om hom aan te bied nie. Kan jy my nie met drie broodjies uithelp nie?’

7. Wel, wat dink julle was die reaksie van hierdie ander vriend toe hy in die middel van die nag wakker geklop is? Dink julle hy het daar uit sy bed geskree: ‘Gee pad! Die deur is gesluit. My vrou en kinders slaap lankal. Ek gaan definitief nie nou opstaan om vir jou ’n brood te gee nie’?

8. “Nee, natuurlik nie. Goeie vriende help mekaar. Ek sê vir julle, hierdie man sal dadelik opstaan en vir sy vriend brood gee. Ook al doen hy dit nie omdat hulle vriende is nie, sal hy dit doen omdat hy die man jammer kry wat so laat in die nag kos kom soek.

9. “Weet julle, God is net soos hierdie vriend. Daarom sê Ek vir julle: vra en God sal vir julle gee. Soek en julle sal kry. Klop aan God se hemelse deur en Hy sal vir julle kom oopmaak.

10. Want elkeen wat vra, ontvang; elkeen wat soek, kry, en elkeen wat klop, tref uiteindelik ’n oop hemelse deur aan.

Lees volledige hoofstuk Lukas 11