Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 11:1-14 Die Boodskap (DB)

1. Kort daarna het Jesus verder gereis. By een van die plekke waar hulle oorgebly het, het Hy gaan bid. Toe Jesus klaar gebid het, vra een van sy volgelinge Hom: “Here, leer ons asseblief ook om reg met God te praat. Weet U, Johannes die Doper leer sy volgelinge hoe om te bid.”

2. Jesus sê toe vir hom: “Hier is ’n voorbeeld van hoe julle met God moet praat: “Ons Vader, laat almal op aarde groot eerbied vir u heilige Naam hê. Laat u nuwe wêreld tog gou aanbreek.

3. Gee ons asseblief elke dag genoeg om van te leef.

4. Vergeef ons waar ons nie doen wat U van ons vra nie, net soos ons almal vergewe wat nie reg teenoor ons optree nie. En help ons om nooit te swig voor versoekings nie.”

5. Daarna het Jesus vir sy volgelinge ’n verhaal vertel: “Stel julle die volgende toneel voor: ’n vriend kom onverwags in die middel van die nag by ’n man se huis aan. Hy staan toe dadelik op en nooi hom in. Hy wou vir sy vriend iets te ete gee, maar ontdek toe daar is nie ’n krieseltjie kos in sy huis nie. Hy stap toe gou oor na ’n ander goeie vriend van hom en klop hom wakker. ‘Ag, ek is verskriklik jammer om jou so laat in die nag lastig te val.

6. Maar ’n goeie vriend van my het uit die bloute daar by my aangekom. En my huis is dolleeg. Ek het nie ’n stukkie kos om hom aan te bied nie. Kan jy my nie met drie broodjies uithelp nie?’

7. Wel, wat dink julle was die reaksie van hierdie ander vriend toe hy in die middel van die nag wakker geklop is? Dink julle hy het daar uit sy bed geskree: ‘Gee pad! Die deur is gesluit. My vrou en kinders slaap lankal. Ek gaan definitief nie nou opstaan om vir jou ’n brood te gee nie’?

8. “Nee, natuurlik nie. Goeie vriende help mekaar. Ek sê vir julle, hierdie man sal dadelik opstaan en vir sy vriend brood gee. Ook al doen hy dit nie omdat hulle vriende is nie, sal hy dit doen omdat hy die man jammer kry wat so laat in die nag kos kom soek.

9. “Weet julle, God is net soos hierdie vriend. Daarom sê Ek vir julle: vra en God sal vir julle gee. Soek en julle sal kry. Klop aan God se hemelse deur en Hy sal vir julle kom oopmaak.

10. Want elkeen wat vra, ontvang; elkeen wat soek, kry, en elkeen wat klop, tref uiteindelik ’n oop hemelse deur aan.

11. “Wie van julle wat ’n pa is, sal vir julle kind ’n slang gee as hy julle ’n stukkie vis vra om te eet?

12. As hy vir ’n eier vra, gee julle hom mos nie iets boos soos ’n skerpioen nie. Nou ja, God maak ook nie so met sy kinders nie.

13. As julle klomp slegte mense net goeie dinge vir julle eie kinders gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader dit dan nie doen nie? Ek verseker julle: Hy sal selfs die Heilige Gees met sy groot krag gee aan almal wat ernstig tot Hom bid.”

14. Daarna het die mense ’n man na Jesus toe gebring wat in die mag van die duiwel was. Hy kon nie ’n enkele woord praat nie. Maar Jesus het die duiwel gou uitgedryf. Toe kon hy weer praat. Dit het die omstanders diep geraak.

Lees volledige hoofstuk Lukas 11